Klaasen wil rooibalkrieket vir Proteas speel

Heinrich Klaasen. Foto: Cricinfo.

Suid-Afrika se paaltjiewagter/kolwer, Heinrich Klaasen, hoop om sy toetsdebuut vir die Proteas in die komende reeks teen Indië te maak.

Hy het reeds verlede jaar sy eerste kitskrieketwedstryd vir Suid-Afrika gespeel, maar kon nog net in 14 eendagwedstryde en nege T20-kragmetings vir die nasionale span speel. Sy laaste wedstryd in Protea-kleure was in die tuisreeks teen Pakistan en hy was nie saam na die rampspoedige Wêreldbeker-kriekettoernooi in Engeland nie.

Tog is hy in die Proteas se toetsspan nadat hy as plaasvervanger vir die beseerde Rudi Second gekies is.

Die 28-jarige Klaasen het ’n gemiddeld van 45.63 in 65 eersterangse wedstryde vir die Titans en hy is tans saam met die SA A-span in Indië waar dié twee spanne in ’n eendagreeks gewikkel is.

Hy het in die eerste kragmeting 58 lopies van 43 aflewerings vir die SA A-span geslaan; Reeza Hendricks het in dieselfde wedstryd ’n honderdtal aangeteken.

Die onlangse uittredes van AB de Villiers en Hashim Amla het vir ’n paar leemtes in die Protea-kolflys gesorg en Klaasen sal hoop om een van hulle te vul; juis daarom wil hy aanhou om lopies te slaan.

“Hul uittredes beteken dat daar ’n paar plekke in die middelorde oop is. Daar is gesonde kompetisie tussen die kolwers, maar ek is nie té bekommerd nie,” het hy gesê.

“Ek wil my beste doen in die eendagwedstryde teen Indië A en hopelik kan ek ’n plek in die toetsspan losspeel.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.