Kolflys lyk broos vir Aussie-toer

Temba Bavuma en Rassie van der Dussen. Foto: Rodger Bosch/AFP.

In 2008 het die Proteas die grondslag vir hul geskiedkundige reeksoorwinning in Australië sommer so met die intrapslag in die eerste toets in Perth gelê.

Die Suid-Afrikaners het toe met gedugte kolwers soos Graeme Smith, Jacques Kallis, Hashim Amla en AB de Villiers in hul geledere gespog. Boonop het ʼn jong JP Duminy ook onder die Aussie-boulers baljaar.

Druk die versnelknoppie nou na 2022 en die Protea-kolflys lyk maar baie broos vir hul Australiese avontuur.

Dean Elgar is ongetwyfeld ʼn hardebaard openingskolwer, terwyl Sarel Erwee en Rassie van der Dussen ook al ʼn paar goeie beurte op toetsvlak gespeel het. Maar om doodeerlik te wees – Theunis de Bruyn, Temba Bavuma, Khaya Zondo en selfs Heinrich Klaasen boesem nie noodwendig dieselfde vrees as Smith, Amla en kie in nie.

Aiden Markham, wat deesdae sukkel om in rooibalwedstryde die mas op te kom, is uit die toergroep weggelaat en Keegan Petersen se dyspierbesering beteken dat hy ook die aksie op die televisie sal moet volg.

Dean Elgar. Foto: © Christiaan Kotze/C& C Photographic Agency

Ervaringsgewys het ʼn moontlike kolfspan van Elgar, Erwee, De Bruyn, Bavuma, Van der Dussen en Verreynne net 177 toetse tussen hulle; neem vir Elgar uit die berekening en die syfer krimp skielik tot 98 wedstryde.

De Bruyn spog darem met ʼn eersterangse gemiddeld van meer as 40, terwyl hy ook onlangs ʼn belangrike honderdtal vir die Titans teen die Lions geslaan het. Hy was egter in 2019 laas in aksie vir die Proteas.

Gelukkig het die boulers in die onlangse toetsreeks teen Engeland gewys dat hulle ook die wilgerlat kan swaai.

“As boulers skaaf ons gereeld aan ons kolfwerk gedurende die netsessies. Ons trotseer ander boulers, terwyl die afrigters ook gereeld vir ons balle gooi,” het Keshav Maharaj destyds op die vooraand van die Old Trafford-toets gesê.

Maar hy sal nie altyd saam met Marco Jansen of Simon Harmer of Kagiso Rabada die kastaiings uit die vuur kan krap nie.

Die kolwers sal ook hul man moet kan staan.

Protea-groep: Dean Elgar (kaptein), Sarel Erwee, Theunis de Bruyn, Themba Bavuma, Khaya Zondo, Rassie van der Dussen, Heinrich Klaasen, Kyle Verreynne, Keshav Maharaj, Kagiso Rabada, Simon Harmer, Gerald Coetzee, Marco Jansen, Lungi Ngidi, Anrich Nortjé, Glenton Stuurman.

Bepalings:

17 tot 21 Desember: Eerste toets in Brisbane

26 tot 30 Desember: Tweede toets in Melbourne

4 tot 8 Januarie 2023: Derde toets in Sydney.

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

5 Kommentare

George ·

Wat Janneman Malan nog moet doen weet ek nie. Avg 49.63 in FC en 45.52 in List A. Belaglik dat hy seisoen na seisoen oorgesien word.

Koos 100 ·

Die Titans het sterk kolwers en wen die een kompetiesie na die ander maar net 5 spelers van hulle behaal die toergroep?

Nited ·

…en Nog steeds is Themba Bavuma in die span. Tragies !!!
Kan iemand my asb help om die regte antwoord te kry:
Is die feit dat hy weer toer agv?
* Kader ontplooiing
* BEE
* Span kaping

George ·

Ek sien baie sukkel met onderskeiding. Gaan kyk Bavuma se TOETS avg, en die res van die groep sin, selfs Markram en kie wie uitgelos is, is onder hom op avg. T20, hoort hy nie daar nie, maar toetse het hy sy plek meer verdien as enige ander speler, naas Elgar, wat 4 meer avg.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.