Kolwers maak (al) weer droog

Ollie Robinson en Ollie Pope vier Keegan Petersen se paaltjie op die Oval. Foto: Ben Stansall/AFP.

Dit is nou al regtig ʼn holruggeryde storie, maar die Protea-kolwers kom glad nie die mas op in toetskrieket nie.

Teen middagete het die Suid-Afrikaners met hul telling op 69/6 gesteier – Dean Elgar, Sarel Erwee, Keegan Petersen, Ryan Rickelton, Kyle Verreynne en Wiaan Mulder is reeds terug in die kleedkamer.

Toegegee, die bewolkte weer gee beslis vir naatboulwerk ʼn hupstoot, maar die Proteas het hulself omtrent boeglam gesukkel terwyl die Engelse boulers baljaar het.

In die kommentatorshokkie het Kevin Pietersen sy bes gedoen om ʼn verskoning vir die kolfwerk te soek.

“So dikwels sê ons dat boulers soos Stuart Broad, James Anderson en Ollie Robinson hulself ongelukkig kan ag om nie die buiterand van die kolf te vind nie; vandag het die Suid-Afrikaanse kolwers ongetwyfeld saamgespeel,” het Pietersen gesê.

Vier van die kolwers is agter die paaltjies uitgevang, terwyl Elgar en Petersen deur Robinson skoongeboul is.

Dit het eintlik nie saakgemaak of hulle verdedigende of aanvallende houe speel nie; die paaltjies het bly kantel.

Nadat reënweer die eerste dag van die beslissende toets teen Engeland op die Oval in die wiele gery het, is gister se spel ook opgeskort ná die dood van koningin Elizabeth. Die wedstryd het dus as’t ware op derde dag begin.

Ben Stokes het egter gesê dat die Engelsmanne deur hul spel hulde aan die Britse monarg wil bring, terwyl God save the King ook vandag vir die eerste keer in ʼn lang tyd weer op die sportveld gehoor is.

Ja-nee, die Engelse is oorgehaal om dié een te wen.

  • Opsomming van telkaart:

Suid-Afrika 69/6 ná 24 boulbeurte: Khaya Zondo 21*, Ollie Robinson 4/21 en James Anderson 1/16.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.