Vlae ook halfmas op die Oval

Sake is gelykop in die toetsreeks tussen Suid-Afrika en Engeland. Foto: Lindsey Parnaby/AFP.

Met sy kenmerkende drie leeus op ʼn swart agtergrond het die Engelse krieketraad (ECB) gister aangekondig dat die derde toets tussen Suid-Afrika en Engeland vir eers opgeskort is.

“Ná die dood van haar majesteit koningin Elizabeth II sal Vrydag se spel tussen Engeland en Suid-Afrika op die Oval nie voortgaan nie,” het die kort verklaring gesê.

Ander plaaslike wedstryde om die Rachael Heyhoe Flint-trofee sal ook nie plaasvind nie.

Die Britse monarg is gister in die ouderdom van 96 jaar oorlede en Richard Thompson, ECB-voorsitter, het hulde aan haar gebring.

“Ek is oortuig dat ek namens baie krieketliefhebbers praat as ek sê hoe hartseer ek is om van die koningin se afsterwe te hoor. Haar majesteit en haar man, prins Phillip, was groot ondersteuners en liefhebbers van die spel,” het Thompson gesê.

Hy het haar terselfdertyd ook vir haar onbaatsugtige diens geloof.

“Haar toewyding aan haar land is iets wat nooit vergeet sal word nie en ons is so baie aan haar verskuldig.”

Volgens Cricinfo het Engeland se krieketbase met die Proteas-bestuur vergader om die beste pad vorentoe te bespreek. Die tweede dag se spel kan of Saterdag hervat word, of die toets kan heeltemal afgelas word.

“Krieket Suid-Afrika wil graag sy innige simpatie met die koninklike familie, die Verenigde Koninkryk en die Statebondlande betuig,” het die Suid-Afrikaanse krieketbeheerliggaam getwiet.

Reënweer het gesorg dat daar nog geen aflewering in die wedstryd geboul is nie. Die reeks is tans gelykop nadat Suid-Afrika en Engeland elk ʼn toets gewen het.

Suid-Afrika: Dean Elgar, Sarel Erwee, Keegan Petersen, Ryan Rickelton, Khaya Zondo, Kyle Verreynne, Wiaan Mulder, Marco Jansen, Keshav Maharaj, Kagiso Rabada en Anrich Nortjé.

Engeland: Zak Crawley, Alex Lees, Ollie Pope, Joe Root, Harry Brook, Ben Stokes, Ben Foakes, Stuart Broad, Ollie Robinson, Jack Leach en James Anderson.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.