Krieket: Janneman Malan wen toekenning

Janneman Malan (Foto: Skermgreep uit die video)

Suid-Afrika se Janneman Malan is deur die Internasionale Krieketraad aangewys as sy Opkomende Speler van die Jaar vir 2021.

Volgens die IKR se webtuiste is die 25-jarige Malan beloon vir 715 lopies in 17 internasionale wedstryde teen ʼn gemiddeld van 47,66 lopies per beurt wat hy ook teen vinniger as ʼn lopie per bal aangeteken het.

Hoewel Malan reeds in 2019 sy debuut vir die Proteas gemaak het, kon hy nie vir homself ʼn permanente plek in die toporde in witbal-krieket verseker nie. Volgens die IKR het dit verander nadat hy een asemrowende kolfbeurt na die volgende in 2021 ingeryg het. Hy het agt eendagwedstryde en nege T20’s gespeel, maar dit was in die eendagformaat waar hy sy werklike potensiaal gewys het.

Malan het in die reeks teen Pakistan beurte van 70 en 55 lopies op SuperSportpark in Centurion aangeteken. Volgens die IKR was dit sy onoorwonne 177 lopies teen Ierland in Dublin wat behoorlik die oog gevang het. Die beurt het 16 viere en ses groot sesse ingesluit.

Hy het ook 121 lopies teen Sri Lanka later in die jaar aangeteken.

Klik hier om ‘n video van Janneman Malan te sien

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.