Kyk: Brevis laat waai vir MI Cape Town

Dewald Brevis laat waai vir die MI Cape Town-span. Foto: Twitter via SA20.

Jonk ofte not; Dewald Brevis is ʼn baie spesiale krieketspeler wat oor die unieke gawe beskik om ʼn mens vir ʼn rukkie van jou sorge te laat vergeet.

Met elke swaai van sy kolf het sportliefhebbers ʼn bietjie meer hoop vir die kriekettoekoms gekry en selfs die nuus van fase 6-beurtkrag het ʼn bietjie van sy gewone slaankrag verloor.

Die 19-jarige kolwer het toe inderdaad vlamgevat in die eerste wedstryd van die SA20-toernooi en hy het 70 onoorwonne lopies vanaf 41 balle vir MI Cape Town teen Paarl Royals gemoker.

Hy het die Nuweland-skare met vyf reuse-sesse vermaak en toegesien dat die tuisspan die kragmeting binne 16 boulbeurte en met agt paaltjies gewen het.

Boonop het hy ook met volwassenheid gespeel.

Die toeskouers – asook Kevin Pietersen in die kommentatorshokkie – het hom aangemoedig om die wedstryd met nóg ʼn ses te beklink.

Hoewel die versoeking waarskynlik groot was, het hy kalm gebly en vir ʼn enkellopie deurgeskarrel. ʼn Beïndrukte Pietersen het steeds gesê dat dit een van die beste oomblikke van die wedstryd was.

Nodeloos om te sê is hy as die speler van die wedstryd aangewys en hy het summier die toeskouers vir hul ondersteuning bedank.

“Ek het elke liewe oomblik geniet en ek is dankbaar vir hierdie geleentheid om voor my tuisskare te speel,” het Brevis gesê.

Ryan Rickelton – die kolwer wat dalk (beslis?) saam met die Proteas na Australië moes reis – het ook goed gelyk.

Hy het 42 blitsige lopies aangeteken en ʼn openingsvennootskap van 90 lopies binne 11 boulbeurte saam met Brevis geniet.

Vroeër het Engeland se Jofra Archer met sy blitsige boulwerk geskitter, terwyl Jos Buttler en David Miller ook goed gekolf het.

  • Opsomming van telkaart:

Paarl Royals 142/7 in 20 boulbeurte: Jos Buttler 51, David Miller 42 en Jofra Archer 3/27.

MI Cape Town 143/2 ná 15,3 boulbeurte: Dewald Brevis 70, Ryan Rickelton 42 en Ramon Simmonds 1//32.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Watsenaam ·

O wee, ek hoop die keurders neem kennis. die ou gesegde sê ” if your good enough, your old enough” Of is sy velkleur verkeerd?

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.