Kyk: KP draai wéér die horlosie terug

Kevin Pietersen. Foto: Twitter.

Op 41-jarige ouderdom is Kevin Pietersen nog net so gevaarlik soos altyd voor die paaltjies.

Die Suid-Afrikaans gebore kolwer het gister 86 lopies van slegs 38 aflewerings gemoker om toe te sien dat die World Giants hul Legendes-wedstryd met sewe paaltjies teen die Asia Lions gewen het.

“KP”, soos wat die oudleerder van Maritzburg College in die krieketwêreld bekendstaan, het ná sy warrelwindbeurt geskerts dat belangstellende spanne se sakke dalk nie diep genoeg is om ’n moontlike terugkeer na die Indiese Premierliga (IPL) te finansier nie.

“Ek sal waarskynlik die meeste lopies in die toernooi slaan en al die jonger spelers laat skaam kry,” het Pietersen getwiet.

Hy het gister die kolfwerk saam met Herschelle Gibbs geopen en 16 grenshoue (waaronder sewe sesse) in sy beurt geslaan.

Op sy beurt kon Gibbs net 12 lopies aanteken voordat Sanath Jayasuriya hom van Nuwan Kulasekara se boulwerk uitgevang het.

Pietersen het verlede jaar – in die kleure van die Engelse krieketlegendes – 75 lopies van 37 balle teen die Indiese legendes geslaan.

Hy het in 2000 Suid-Afrika vir ’n plek in Nottinghamshire se span verruil en hy het uiteindelik in meer as 100 toetse vir Engeland gespeel.

  • Spanne:

World Giants: Kevin Pietersen, Herschelle Gibbs, Kevin O’Brien, Corey Anderson, Brad Haddin, Albie Morkel, Darren Sammy (kaptein), Brett Lee, Morné Morkel, Ryan Sidebottom en Monty Panesar.

Asia Lions: Tillakaratne Dilshan, Sanath Jayasuriya, Upul Tharanga, Asghar Afghan, Misbah-ul-Haq, Romes Kaluwitharana, Nuwan Kulasekara, Mohammad Rafique, Chaminda Vaas en Muthiah Muralitharan.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.