Marnus se flitsende kolf laat waarskuwingsligte flikker

Marnus Labuschagne het 154 onoorwonne lopies teen die Wes-Indiese Eilande geslaan. Foto: Ishara S. Kodikara/AFP.

Marnus Labuschagne het voor die toetsreeks tussen Australië en Suid-Afrika ʼn sterk boodskap aan die Protea-boulaanval gestuur.

Die 28-jarige kolwer se 154 onoorwonne lopies het toegesien dat die Aussies met ʼn telling van 293/2 ná die eerste dag se spel teen die Wes-Indiese Eilande in Perth kon spog.

Hy het ʼn uitstekende vennootskap van 142 lopies om die tweede paaltjie met Usman Khawaja geniet voordat hy en Steve Smith die goeie werk voortgesit het.

Volgens Labuschagne is hy mal daaroor om in Perth te kolf. Hy het in sy vorige wedstryd in dié Wes-Australiese stad tellings van 143 en 50 geslaan en hy is hoegenaamd nie van plan om nou sy voet van die versnelpedaal teen die Windies te haal nie.

“Wanneer jy 150 nie uit is nie, is jou volgende mikpunt natuurlik 200 lopies. As ek môre soos vandag kan speel, is ek seker dat ek daar sal uitkom. Tog moet ʼn mens niks as vanselfsprekend aanvaar nie en dit is baie belangriker om soveel as moontlik lopies vir die span aan teken om sodoende die Windies onder druk te plaas,” het Labuschagne gesê.

Australië se gunsteling-Klerksdorper het in 28 toetse reeds 2 539 lopies teen ’n spoggemiddeld van 54,02 geslaan. Boonop het dit hom ook net 34 beurte geneem om 2 000 toetslopies aan te teken – die vyfde vinnigste in die geskiedenis van die spel.

Hy het in 2020 ook die legendariese sir Donald Bradman se rekord verbeter vir die meeste lopies in drie beurte op die Gabba-krieketveld in Brisbane.

Labuschagne het in sy drie Brisbane-beurte 374 lopies gemoker, terwyl Bradman 326 lopies geslaan het.

Die Proteas speel juis hul eerste toets teen die Aussies op die Gabba.

  • Opsomming van telkaart:

Australië 293/2 ná 90 boulbeurte: Marnus Labuschagne 154*, Usman Khawaja 65 en Kyle Mayers 1/24.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

George ·

Hy het sy geleentheid destyds met die Ashes met albei hande gegryp en dit gebruik. Hy is n briljante speler.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.