Marnus voeg daad by woord

Marnus Labuschagne. Foto: Jeremy Ng/AFP.

Beroepswedders spits seker hul ore wanneer Marnus Labuschagne beloof om iets op die krieketveld te doen.

Nadat hy die eerste dag van die Perth-toets met ʼn onoorwonne 154 lopies afgesluit het, het hy gesê dat ʼn dubbelhonderdtal die volgende logiese stap is.

En hy het vandag die daad by die woord gevoeg toe hy ʼn beurt van 204 lopies teen die Wes-Indiese Eilande gevier het.

Om dinge net vinnig in perspektief te plaas: Die Klerksdorp-boorling het met sy bobaas poging meer lopies geslaan as wat die hele Protea-kolflys in hul beurte op Old Trafford (151 en 179) en die Oval (118 en 169) kon aanteken.

Hy het saam met Steve Smith ʼn vennootskap van 251 lopies om die derde paaltjie gedeel voordat Joshua da Silva hom agter die paaltjies van Kraigg Brathwaite se boulwerk uitgevang het.

Smith (200* lopies) en Travis Head (99) het daarna vrolik voortgekolf voordat Pat Cummins die Aussie-beurt op 598/4 verklaar het.

Teen uitskeityd het die Windies 54/0 op die telbord gehad. Tagenarine Chanderpaul, seun van die voormalige Wes-Indiese ster Shivnarine, het reeds ses grenshoue in sy beurt van 37 geslaan.

  • Opsomming van telkaart:

Australië 598/4 verklaar: Marnus Labuschagne 204, Steve Smith 200, Travis Head 99 en Kraigg Brathwaite 2/65.

Wes-Indiese Eilande 54/0: Tagenarine Chanderpaul 37*.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

pompies ·

SA se betse uitvoer produk is die sport sterre en ons dokters.

Treurwilger ·

Puik prestasie, weliswaar teen ‘n taamlik flouerige boulaanval op ‘n teleurstellende mak kolfblad vir Perth.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.