Moenie Italië onderskat nie, waarsku Kwagga

Kwagga Smith. (Foto: Twitter)

Kwagga Smith weet wat dit verg om teen groter teenstanders te staan te kom. Die Springbok-flank is immers gereeld een van die kleiner voorspelers op die veld; tog het hy nie ʼn bang haar op sy kop nie.

En net soos wat ander spanne dit nie kan bekostig om hóm te onderskat nie, so het hy ook die Springbokke gewaarsku dat Italië nie sommer in Genua sal hensop nie.

Die Azzurri het verlede naweek met die Wallabies afgereken, terwyl hulle onlangs vir Samao met 49 – 17 verrinneweer het.

Boonop het die Springbokke ook al die onderspit weg van die huis teen die Italianers gedelf – Saterdag is juis die sesde herdenking van daardie nederlaag (20 – 18) in Florence.

“Italië se ouderdomsgroepspanne is die afgelope paar jaar ʼn krag waarmee daar rekening gehou moet word en daardie einste talent het nou na die nasionale span deurgesyfer. Daarbenewens sorg hul deelname aan die Verenigde Rugbykampioenskap dat hul spelers uitstekende blootstelling geniet,” het Smith gesê.

Volgens die Springbok word die Wallabies eintlik deur verlede week se eindtelling (28 – 27) gevlei.

“Ek dink dat die Aussies hul sterre kan dank toe hulle daardie laaste drie gedruk het. Dit is ʼn wekroep vir ons en ons weet dat ons op ons beste sal moet wees om Italië te klop.”

Smith het bygevoeg dat die Suid-Afrikaners hul afrondingswerk sal moet opskerp – hulle verbrand immers meer energie as ʼn steenkoolkragstasie wanneer hulle druipstert die aanvalsaftog moet blaas.

Uitslae van die onlangse wedstryde tussen Suid-Afrika en Italië:

19 Junie 2010: 29 – 13 in Suid-Afrika se guns

26 Junie 2010: 55 – 11 in Suid-Afrika se guns

8 Junie 2013: 44 – 10 in Suid-Afrika se guns

22 November 2014: 22 – 6 in Suid-Afrika se guns

19 November 2016: 20 – 18 in Italië se guns

25 November 2017: 35 – 6 in Suid-Afrika se guns

4 Oktober 2019: 49 – 3 in Suid-Afrika se guns

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

vuurvliegie ·

My geld is op Italie om te wen. Sterkte aan die skeidsregter. Blaas streng op alle foute.
Rassie huil weer Saterdag en is al klaar begin om sy video kamera se batterye te herlaai.

George ·

Ek dink ons sal Italie vat minstens met 22 punte. Maar Rassie gaan steeds huil, net jammer hy wys net foute na een kant toe, en nie waar ons voordeel getrek het nie.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.