Muthusamy laat weer paaltjies spat

Senuran Muthusamy het weer eens vyf paaltjies in ’n beurt geneem. (Foto: Twitter/Krieket Suid-Afrika)

ʼn Paar dae nadat Senuran Muthusamy met ʼn wedstrydboulontleding van 12/175 in die eerste meerdag-toerkragmeting teen Sri Lanka A gespog het, het die Suid-Afrikaanse draaier weer eens onder die kolwers gemaai.

Die Durban-boorling het nou 6/101 in Sri Lanka A se eerste kolfbeurt geneem en toegesien dat die eilandmanne vir 290 lopies uitgeknikker is.

Dit is belangrik om daarop te let dat hy nie net van stertkantkolwers ontslae raak nie; hy het nou ook onder die toporde amok gemaak om onder meer vir Nishan Madushka, Lasith Croospulle en Minod Bhanuka terug na die kleedkamer te stuur.

Hy het nou altesaam 18 paaltjies in drie beurte teen ʼn indrukwekkende gemiddeld van 15,3 geneem.

Muthusamy het in 2019 sy internasionale buiging tydens die Proteas se rampspoedige toer na Indië gemaak, maar hy het weliswaar die paaltjie van Virat Kohli in Visakhapatnam geneem.

Ondanks sy boulwerkheldedade kry die Suid-Afrikaners steeds die wind van voor met die wilgerlat en kaptein Tony de Zorzi is met die eerste aflewering van hul beurt been voor paaltjie betrap.

  • Opsomming van telkaart:

Sri Lanka A 290/10 in 75,1 boulbeurte: Ramesh Mendis 62, Senuran Muthusamy 6/101 en Lutho Sipamla 2/36.

  • SA A-span: Tony de Zorzi (kaptein), Matthew Breetzke, Tristan Stubbs, Keegan Petersen, Zubayr Hamza, Kyle Verreynne, Senuran Muthusamy, Beyers Swanepoel, Lizaad Williams, Lutho Sipamla en Tshepo Moreki.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

piet ·

Ek dink hy is daar (was vir die korter weergawe in elk geval). Die ou is heeltemal te wisselvallig, ‘n “one hit wonder” in hierdie stadium.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.