Nieu-Seeland meld in SA aan vir kragmetings met Protea-vrouekrieketspan

(Foto: Facebook/Neville Vander Walt)

Nieu-Seeland speel in September vanjaar in drie eendagtoetse en vyf T20-wedstryde teen die Protea-vrouekrieketspan. Die wedstryde word tussen 24 September en 15 Oktober gespeel.

Die Proteas sal in die eendagreeks in Potchefstroom (24 September), Pietermaritzburg (28 September) en Durban (1 Oktober) teen die Wit Varings te staan kom. Die eendagreeks is ook van besondere belang omdat dit deel is van die Vrouekampioenskap 2022-2025 se kwalifiseringsroete voor die volgende 50-boulbeurt-wêreldbeker.

Krieket Suid-Afrika (KSA) sê die Durban-wedstryd op Kingsmead is veral noemenswaardig omdat die vrouespan dan in hul derde Swart Dag-wedstryd speel as deel van die stryd teen geslagsgebaseerde geweld en die bevordering van geslagsgelykheid.

“Spelers van albei spanne sal swart armbande en hul onderskeie swart uitrustings dra as ʼn simbool van solidariteit en steun vir die saak,” sê KSA.

In die korter formaat sal Buffalo Park in Oos-Londen en Willowmoore Park in Benoni gasheer wees vir die T20-reeks van 6 tot 15 Oktober. Die stryd tussen die twee spanne val ook saam met die voorbereiding vir die T20-vrouewêreldbeker wat ʼn jaar later in Bangladesj beslis gaan word.

Die spanne spring weg met ʼn opwarmingswedstryd op 21 September terwyl die besoekers aan plaaslike omstandighede gewoond raak.

Die twee lande het ʼn geskiedenis van opwindende tweestryde: Suid-Afrika het in 2020 in ʼn witbaltoer in Nieu-Seeland met 3-0 geseëvier voordat hulle met 3-1 in die T20-wedstryde die onderspit gedelf het. In die Vrouewêreldbeker in Aotearoa in 2022 het die Proteas ook ʼn oorwinning in die doodsnikke van die wedstryd verseker.

In die geheel vaar die Kiwi’s nooit te sleg teen Suid-Afrika nie en uit die laaste 17 eendagwedstryde spog hulle met 11 oorwinnings. Wat T20-wedstryde betref het die Protea-vrouekrieketspan uit 13 wedstryde nog net drie keer as oorwinnaars uit die stryd teen die Wit Varings getree.

“Ons is oorstelp van vreugde om Nieu-Seeland vir die toer te verwelkom en wens albei spanne alles van die beste toe. Ons sien uit daarna om opwindende krieket te sien,” sê Pholetsi Moseki, hoof van KSA.

Alle wedstryde sal regstreeks op SuperSport uitgesaai word.

Só lyk wedstrydskedule vir Suid-Afrika teen Nieu-Seeland:

Opwarmingswedstryd:

  • Donderdag 21 September om 10:00: Willowmoore Park, Benoni

Eendagreeks:

  • Sondag 24 September om 10:00: JB Marks-stadion, Potchefstroom
  • Donderdag 28 September om 09:30: Pietermaritzburg-stadion, Pietermaritzburg
  • Sondag 1 Oktober om 09:30: Kingsmead-stadion, Durban

T20-reeks:

  • Vrydag 6 Oktober om 18:00: Buffalo Park, Oos-Londen
  • Sondag 8 Oktober om 14:00: Buffalo Park, Oos-Londen
  • Dinsdag 10 Oktober om 18:00: Buffalo Park, Oos-Londen
  • Saterdag 14 Oktober om 14:00: Willowmoore Park, Benoni
  • Sondag 15 Oktober om 14:00: Willowmoore Park, Benoni

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

JohanR ·

Na die Wereldbeker by Nuweland, dink ek die SA vroue span kan nou groot steun orals verwag.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.