Ondersteuners hoop Brevis vat vlam

Dewald Brevis in gesprek met Hashim Amla. Foto: Twitter via MI Cape Town.

Daar is verskillende menings oor Dewald Brevis: Hy is óf nog te jonk en te onbestendig om vir die Proteas te speel óf die nasionale keurders maak ʼn fout om hom nie te kies nie.

Hoe dit ook al sy, die 19-jarige laat toeskouers beslis regop sit wanneer hy uitstap om te kolf. En almal – van AB de Villiers tot ʼn rusbank-krieketkenner – het waardering vir sy uitstekende houespel.

Daar was byvoorbeeld die pragbeurt van 162 lopies van slegs 57 aflewerings in ʼn plaaslike T20-wedstryd vir die Titans teen die Knights.

Die oudleerder van Afrikaanse Hoër Seunskool het 13 sesse teen die stomme Vrystaatse boulers (Migael Pretorius en Gerald Coetzee inkluis) gemoker en in die proses ʼn spul kolfwerkrekords verbeter.

Net Chris Gayle (175*) en Aaron Finch (172) kon meer lopies as Brevis in ʼn T20-kolfbeurt aanteken, terwyl hy die jongste Suid-Afrikaner geword het om ʼn honderdtal in krieket se blitsformaat te slaan.

Daarbenewens het hy net 52 aflewerings nodig gehad om sy 150-tal aan te teken; ʼn nuwe internasionale rekord.

Dan was daar sy ses van 112 m vir die Mumbai Indians in die Indiese Premierliga, terwyl hy in die Karibiese Eilande die bal vyf keer agtereenvolgens oor die grenstou gejaag het.

Tussendeur was daar natuurlik ook ʼn paar teleurstellende beurte waar hy hopeloos te vinnig sy paaltjie verloor het. Hy is byvoorbeeld vir nege en twee lopies direk ná daardie warrelwindbeurt teen die Knights uitgehaal.

Maar dit gaan tans sleg met Suid-Afrikaanse krieket. En Dewald Brevis gee ʼn mens darem hoop vir die toekoms; selfs al slaan hy nie met elke beurt ʼn vyftigtal nie.

  • Brevis se T20-statistieke:

Kolfwerk: Hy het in 34 wedstryde 820 lopies teen ʼn gemiddeld van 27,33 en ʼn treftempo van 150,73 geslaan. Sy hoogste telling is 162 lopies.

Boulwerk: Hy het 13 paaltjies in sy wedstryde teen ʼn gemiddeld van 23,07 geneem terwyl hy net ʼn rapsie meer as sewe lopies per boulbeurt afstaan.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

George ·

Hy is baie talentvol, hulle moet hom reg manage. Hy het wel nog net plaaslik perform, in ander ligas het hy geknak. Nog nie opgewasse vir Proteas nie, nog nie. Groot verskil tussen u/19, local en internationale krieket.

Manie ·

Die komende T20 reeks teen die wêreld se bestes sal wys of hy gereed is of nie.

piet ·

Korrek maar die groot ding is hy het buitengewone talent. Nou moet hy reg bestuur en sy talent reg gekanaliseer word en deur suksesvolle voorgangers gementor word. Enige iets wat hy van sulke legendes kan leer, sal waardevol wees. Spelers met sulke buitengewone natuurlike talent (Gibbs, De Villiers, De Kock) maak mens altyd opgewonde.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.