Ottniel, Marco verniel Super Giants

Marco Jansen en Ottniel Baartman. (Foto: X/Sunrisers Eastern Cape)

Die verdedigende kampioenspan, Sunrisers Eastern Cape, is weer in die SA20-eindstryd nadat hy met Durban’s Super Giants in een van die uitspeelwedstryde klaargespeel het.

Die Oos-Kapenaars het uitstekend geboul en hulle het die Durbaniete vir 106 lopies uitgehaal nadat hulle self 157/8 aangeteken het.

Veral Ottniel Baartman en Marco Jansen was op hul aanvallende beste en hulle het saam agt Super Giants-kolwers terug na die kleedkamer gestuur.

Dan was die Sunrisers se veldwerk ook aan die brand en kaptein Aiden Markram het ʼn uitstekende vangskoot benut om van JJ Smuts ontslae te raak.

Maar in Baartman en Jansen beskik die span oor twee gevaarlike pyle in sy aanvalskoker – al twee snelboulers tel onder die voorste drie paaltjienemers in die toernooi.

Veral Baartman verdien ʼn klop op die skouer nadat hy die belangrike paaltjies van Matthew Breetzke, Smuts en Heinrich Klaasen geneem het.

Dit is egter nog nie die einde van die Super Giants se pad nie: Hulle kry nog Donderdag kans om hul plek in die eindstryd te bespreek.

  • Opsomming van die telkaart:

Sunrisers Eastern Cape 157/8 in 20 boulbeurte: Dawid Malan 63, Aiden Markram 30 en Keshav Maharaj 2/30.

Durban’s Super Giants 106/10 in 19,3 boulbeurte: Wiaan Mulder 38, Ottniel Baartman 4/10 en Marco Jansen 4/16.

Uitslag: Sunrisers Eastern Cape wen met 51 lopies.

  • In vandag se wedstryd speel Paarl Royals teen die Joburg Super Kings op die Wanderers. Die Johannesburgers het op die regte tyd die regte wedstryde begin wen en hulle is beslis ʼn buiteperdspan om die eindstryd te speel.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Elmarie ·

Daardie vangskoot van Aiden was iets om te sien! Kan nie wag vir die eindstryd Saterdag nie!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.