Proteas beklink eendagreeks teen Pakistan

Nadine de Klerk (4/32 en 24 lopies) het met kolf en bal vir die Proteas uitgeblink. (Foto: Twitter/Krieket Suid-Afrika)

Nadine de Klerk het ʼn barshou vir die Protea-vrouekrieketspan in die tweede eendagwedstryd teen Pakistan in Karatsji gespeel.

Die veelsydige speler het met kolf en bal uitgeblink om toe te sien dat die Suid-Afrikaners nie net die wedstryd met ses paaltjies wen nie, maar ook die reeks van drie wedstryde beklink.

Haar vier paaltjies het die tuisspan tot 168 lopies in minder as 45 boulbeurte beperk terwyl sy saam met Marizanne Kapp vinnige lopies aangeteken het om die Protea-kolfwa deur die drif te trek.

Die Suid-Afrikaners het die eerste eendagwedstryd met 127 lopies gewen nadat Suné Luus en Marizanne Kapp al twee honderdtalle aangeteken het.

Volgens die Internasionale Krieketraad (IKR) beklee die Proteas tans die derde plek op sy amptelike eendagkrieketranglys.

Die derde en laaste eendagwedstryd word Donderdag in die einste Karatsji beslis.

  • Opsomming van telkaart:

Pakistan 168/10 in 44,2 boulbeurte: Fatina Sana 69, Aliya Riaz 53 en Nadine de Klerk 4/32.

Suid-Afrika 169/4 in 34 boulbeurte: Tazmin Brits 45, Laura Goodall 36 en Sadia Iqbal 2/32.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

JohanR ·

Ek sal enige dag die Protea vroue se wedstryde gaan kyk. Waaneer dreun die skare weer by Nuweland?

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.