Proteas gaan Quinny mis

Quinton de Kock het ’n barshou in die 2023-Wêreldbeker gespeel. (Foto: Arun Sankar/AFP)

Quinton de Kock se laaste eendagkrieketwedstryd was gelaai met drama en opwinding, maar dit is waarskynlik ook een waarna hy nie met ʼn tevrede glimlag sal terugkyk nie.

Australië – wat voor dáái bewolkte dag in Kolkata die een wedstryd ná die ander teen Suid-Afrika verloor het – het oudergewoonte ʼn haas uit die hoed in ʼn Wêreldbeker-halfeindstryd gepluk en die Proteas met drie paaltjies geklop.

De Kock is goedkoop uitgehaal toe hy lopies vroeg in die Protea-beurt probeer jaag het, terwyl hy laat in die tweestryd ʼn moeilike vangkans van Aiden Markram se boulwerk verbrou het.

Hy het wel ʼn bal, wat baie hoog die hemelruim in geslaan is, netjies uit die lug gepluk om vir Steve Smith terug na die kleedkamer te stuur.

Maar as ʼn mens so na sy Wêreldbeker-statistieke kyk, is dit duidelik dat Suid-Afrika die talentvolle paaltjiewagter in dié formaat van die spel gaan mis.

Vierde Wêreldbeker-honderdtal! Quinton de Kock het 114 lopies teen Nieu-Seeland in Pune aangeteken. (Foto: Indranil Mukherjee/AFP)

In tien kolfbeurte het hy 594 lopies teen ʼn gemiddeld van 59,40 en ʼn treftempo van 107,02 gemoker, terwyl hy ook vier honderdtalle aangeteken het.

Agter die paaltjies het hy 20 kolwers uitgevang of gestonk, terwyl hy teen Afghanistan ses vangskote benut het.

As die hele Protea-elftal met De Kock se spelpeil gespog het, kon hulle dalk in Sondag se eindstryd gespeel het.

Die 30-jarige paaltjiewagter het in aanloop tot die krieketskouspel in Indië sy eendagkrieketuittrede aangekondig om waarskynlik meer aandag aan die wêreldwye mik-en-mokertoernooie te gee.

“Dit was nog altyd ʼn voorreg om saam met Quinny te speel. Ons speel al sedert ons o. 15-dae saam krieket. Hy is ʼn ongelooflik talentvolle speler en sy afwesigheid gaan ʼn groot verlies vir Suid-Afrikaanse krieket wees – veral op die eendagkrieketverhoog,” het Temba Bavuma kort ná die aankondiging gesê.

“Quinton beskik oor ʼn fantastiese krieketbrein: Hy kan die toestande baie vinnig ontleed en hy vind ʼn manier om dit aan ons te kommunikeer selfs voordat ons moet gaan kolf,” het Aiden Markram gesê toe De Kock 174 lopies teen Bangladesj gemoker het.

“Hy voeg baie waarde toe tot die span en jy moet nooit ʼn speler van sy gehalte se vlerke knip nie; jy wil hom net los om te vlieg.”

En nou, tot baie Suid-Afrikaners se konsternasie, vlieg De Kock in die teenoorgestelde rigting van die nasionale eendagkrieketspan.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

George ·

Net jammer hy kon nooit perform wanneer dit getel het nie. Gaan jaag daai dollars champ.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.