Proteas sluit nagmerrie-toernooi met goeie wen af

Faf du Plessis. (Foto: Twitter via Krieket SA/ANA)

In ’n Wêreldbeker-toernooi waar dit in die eerste sewe wedstryde gelyk het asof die passievuur nie baie helder in die Protea-harte gebrand het nie, het hulle die beste vir laaste gelos toe hulle gister op Old Trafford vir Australië met 10 lopies geklop het.

Van die emosie op Faf du Plessis se gesig toe hy sy skitterhonderdtal aangeteken het, tot die jolyt van Imran Tahir se feesvieringe toe hy vir Aaron Finch vroeg in Australië se kolfbeurt uitgeknikker het, en selfs Quinton de Kock se amperse stoute glimlag toe hy op ’n briljante wyse vir Marcus Stoinis uitgehardloop het: Die Proteas het darem weer lus gelyk om te speel.

Ja, die passie (en die seges) het hopeloos te laat in die toernooi hul verskyning gemaak. Maar soos Du Plessis na die tyd gedurende die mediakonferensie gesê: ʼn Mens glimlag weer, en al is dit ’n baie klein (en vir sommige ’n gepynigde) glimlag – jy het darem weer rede om jou Colgate-tandeborsel nader te sleep.

Gister het Aiden Markram (34) en De Kock (52) ’n aggressiewe grondslag vir Du Plessis (100) en Rassie van der Dussen (95) gelê. Die openingskolwers het veral vir Australië se Mitchell Starc onder druk geplaas.

Die linkshandige Starc is die voorste bouler in die toernooi en weens sy onvermoë om die deurbraak te bewerkstellig, moes Finch noodgedwonge na ander boulers draai.

Met Markram en De Kock terug in die kleedkamers, was dit tyd vir die Du Plessis/Van der Dussen-skouspel.

Die Protea-kaptein was die aggressor in dié vennootskap van 151 lopies om die derde paaltjie en hy het sy vyfde honderdtal teen die Australiërs aangeteken.

Hoewel hy stadig begin het, het Van der Dussen later die langsteel ingelê en hy was ongelukkig om met die laaste aflewering van die Protea-beurt op 95 deur Glen Maxwell op die grens uitgevang te word. Dié bal was hard op pad om oor die grens te seil; ’n hou wat hom sy eerste honderdtal in internasionale eendagkrieket sou besorg.

Die Proteas het goed begin om hul telling van 325/6 te verdedig toe Tahir (1/59) van Finch ontslae geraak het. Kagiso Rabada (3/56) het veral vir David Warner vroeg in die beurt laat bontstaan, terwyl Dwaine Pretorius (2/27) van die gevaarlike Steve Smith ontslae geraak het.

Warner (122) en Alex Carey (85) het so amper die Protea-trein ontspoor, maar goeie boulwerk deur Rabada en ’n komkommerkoel Andile Phehlukwayo (2/22) het die wedstryd vir die Proteas beklink.

In ’n toernooi waar die frustrasie swaarder as die hoop geweeg het, het gister se wedstryd net vir ondersteuners gewys wat die span alles kon vermag het as hulle net meer in hulself geglo het.

Maar as – soos wat baie ondersteuners tereg voel – is egter verbrande hout en volgende op die Protea-kalender is die vlug terug na Suid-Afrika.

Gelukkig kon Tahir en JP Duminy hul loopbane op ’n hoë noot afsluit.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

17 Kommentare

Pieter ·

Dit was lekker om te sien dat alles vir ‘n slag reggeloop het, en dit nogal teen die aussies….
Ek hoop Hashim is ook nou klaar. Hyt sy beurt gehad en dis nou tyd vir aftree.

JohanL ·

Ek weet nie of Dwaine Pretorius beseer was of nie, maar dat Faf hom nie ten minste meer as sy 6 beurte laat boul het nie, slaan my dronk. Hy was die beste bouler (mees ekonomieste) en het 2 paaltjies gevat. Faf se groot hoeveelheid boulveranderinge was dalk bedoel om die Aussies te verwar, maar ek dink Faf het homself net op die ou einde deurmekaar gemaak.

‘n Wedstryd wat ons veronderstel was om redelik gemaklik met so 30 lopies te wen, het amper amper dramaties begin raak. Nietemin is enige oorwinning oor die Aussies lekker en het die Proteas dink ek die Aussies bietjie rondgevoeter nou vir die semi-finale. Die Aussies sou sekerlik eerder die Black Caps wou speel, teen wie hulle klaarblyklik ‘n sielkundige houvas het. ‘n Semi-finaal teen die Engelse is aansienlik moeiliker.

Riaan ·

Geluk Useless Chokers, geen druk nie.
Nou wen julle seker n Hout beker.

Andreas ·

En tuis wag ‘n paar dagga-pizzas op hulle.

O’ja en as Finch genadiglik nie vir 3 lopies uit is nie, was dit weer nag, want die telling wat die Aus moes jaag was bereikbaar.

Poot ·

@Andreas
As is verbrande hout….. en Finch is uitgehaal vir 3 lopies. Dis waaroor die game gaan…..

Ai. ·

En hul reken Tahir en JP kan nou hul trots voel en op n hoë noot afsluit….hehe wat mis ek…?? Eerder dankie vader veral met JP..Moes nooit in die WB gewees het nie..Een speler kan n wedstryd op sy kop draai in die geval was JP en n paar ander meer soos n bal en ketting wat jou aftrek bodem toe..maar nou ja die kwotas moet mos daar wees..Dankie tog die nagmerrie is nou oor….

Tommie ·

Amla, Steyn en JP moes nooit in die WB groep gewees het nie

Juanita ·

Big deal! Now they end World Cup in 7th position in stead of 8th…

Docpietza ·

Australie dalk die verloor goed beplan? . Sal eerder teen Eng speel in semi as NZ???

Andreas ·

Hehehe …. ons kan baid dinge dink, maar ek dink nie dit was beplan nie, gaan die manne wat hulle toekom, daardie ounens speek elke wedstryd asof dit die einstryd was. En veronderstel Aus moet die titel, wen, kan SA ‘brag’ en oor ‘n wen teen hulle spog. My geld is egter op Indië.

JohanL ·

Stem saam met Andreas. Australie sal baie eerder teen NZ speel teen wie hulle ‘n ietwat van sielkundige houvas het oor die jare. Engeland het meer spelers wat as individu ‘n wedstryd heeltemal op sy kop kan omkeer.

Nico ·

Waarvoor raak Flaffie Doep nou opgewonde. As 2 kolwers van AUS nie gedurende hul kolfbeurt beseer is nie was hulle die wenners met nog ‘n klompie balke oor. Verder wen Flaffie hulle mos alles wanneer daar nie ‘n wêreldbeker op die spel is nie. Die kans was altyd daar day hulle kan wen omdat daar nie meer ‘n wêreldbeker vir hulle op die spel was nie.

PeetVos ·

Hoe minder ons aan die Proteas se geploeter herinner word, hoe beter!!
Daar is niks goeds oor hulle te sê nie.

hendrik ·

aaag asb eerder teen Eng as NZ kyk julle selfde wereldbeker Eng gaan nog WB wen

Herman Goosen ·

Die derde wêreld het ons ingehaal. Redelike talent onder onprofessionele bestuur. Afrika se bekende storie

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.