Reg of weg vir Proteas op die Oval

Dean Elgar – die Proteas se toetskrieketkaptein. Foto: Adrian Dennis/AFP.

In toetskrieket is dit óf reg óf weg vir die Proteas.

In die afgelope 43 rooibalkrieketwedstryde waarin die Suid-Afrikaners betrokke was, het hulle 23 keer as oorwinnaars van die veld gestap en 20 keer die onderspit gedelf.

Daar was nie een onbesliste uitslag nie – ʼn krieketrekord.

Maar nou, op die vooraand van die derde en beslissende toets teen Engeland op die Oval, hoop ondersteuners dat dinge baie meer “reg” as “weg” vir Dean Elgar se span sal loop.

Nadat die Proteas die eerste toets op Lord’s met ʼn beurt en 12 lopies gewen het, het hulle in die tweede toets met ʼn harde slag terug aarde toe gekom. Niks soos ʼn nederlaag met ʼn beurt en 85 lopies om jou voete vierkant op die grond te hou nie.

Veral die kolwers sal hul sokkies moet optrek – om vir 151 lopies en vir 179 lopies uitgeboender te word is glad nie so waffers nie.

Rassie van der Dussen se vingerbesering beteken dat hy vir ʼn hele ruk die aksie van langs die veld sal moet dophou.

Tog het hy in die aanloop tot die besering ook maar lekker met die wilgerlat op die toetsverhoog gesukkel. Hy kon in sy afgelope sewe toetse nie een vyftigtal aanteken nie en hy handhaaf ʼn eina-gemiddeld van net meer as 24 lopies per beurt.

Vir die Oval-toets kan (moet?) die Protea-keurders vir Ryan Rickelton nadertrek om die beseerde kolwer se skoene vol te staan.

Die 26-jarige Rickelton is een van die opwindendste spelers in Suid-Afrika en benewens sy spoggemiddeld van 53,21 in plaaslike krieketwedstryde, weet hy ook hoe om lopies in Engelse toestande te slaan.

In sy paar wedstryde vir Northamptonshire het hy vier vyftigtalle en twee honderdtalle gemoker, terwyl hy met ʼn hoogste telling van 133 teen Kent spog.

Hoe dit ook al sy, hy kan nie juis minder lopies as Van der Dussen (of Aiden Markram) aanteken as die Protea-keurders hom wel sou kies nie.

As die kolwers nie genoeg lopies aanteken nie, sal enige span sukkel om wedstryde te wen. Maak nie saak hoe gevaarlik sy boulaanval mag wees nie.

So van boulers gepraat – Marco Jansen verdien beslis nog ʼn kans om die Engelse kolwers te laat bontstaan.

Hy het op Lord’s met sy vurige en aggressiewe boulwerk beïndruk voordat hy plek vir Simon Harmer in die daaropvolgende wedstryd moes maak.

ʼn Boulaanval van Kagiso Rabada, Lungi Ngidi, Anrich Nortjé en Jansen kan met die beste in die wêreld saamgesels.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.