Rilee ʼn moet vir WB-wedstryde

Rilee Rossouw het nie vir die Kiwi-boulers teruggestaan nie. Foto: Twitter.

Party mense hou baie van kaassmeer, terwyl ander hul neuse optrek wanneer hulle dit op ʼn toebroodjie sien.

Dieselfde kan seker van Rilee Rossouw gesê word – óf jy hou van hom in die Protea-span, óf jy is nog nie heeltemal oortuig nie. Tog is sy kolf deesdae besig om vir elke ongelowige Thomas ʼn rede te gee om in sy T20-vermoëns te glo.

Die 33-jarige hotklou het in gister se Wêreldbeker-opwarmingswedstryd die wind uit Nieu-Seeland se seile met sy onoorwonne beurt van 54 lopies vanaf 32 aflewerings gehaal.

Ja, die Proteas moes slegs 99 lopies vir ʼn oorwinning aanteken, maar die wedstryd moet steeds gewen word en Rossouw het beslis sy kant gebring.

“Rilee se spelpeil is tans ongelooflik en hy laat kolfwerk makliker lyk as wat dit eintlik is,” het ʼn tevrede Keshav Maharaj ná gister se aksie gesê.

Moet asseblief nie van daardie twee nulletjies op ʼn streep teen Indië vergeet nie, sal die skeptici ʼn mens herinner.

Dan moet jy ook nie van die onoorwonne honderdtal in die daaropvolgende kragmeting vergeet nie, sal die onmiddellike teenantwoord wees.

Sedert sy terugkeer tot die Protea-opset het hy 285 lopies teen ʼn gemiddeld van 71,25 gemoker. Hy slaan sy lopies teen ʼn treftempo van 178.

Vergeet van die apteek; Rossouw se kolfwerk sorg sommer vir die nodige adrenalien-inspuiting.

Rossouw se T20-beurte sedert sy Protea-terugkeer:

4 teen Engeland

96* teen Engeland

31 teen Engeland

0 teen Indië

0 teen Indië

100* teen Indië

54* teen Nieu-Seeland (Wêreldbeker-opwarmingswedstryd)

Bavuma kan terugkeer maak

Die Proteas speel môre in nog ʼn opwarmingswedstryd teen Bangladesj en volgens Maharaj behoort Temba Bavuma weer deel van die aksie te wees.

Die Proteas se witbalkrieketkaptein – wat deesdae kwaai met sy spelpeil sukkel – het die afgelope paar wedstryde weens ʼn virus misgeloop.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Frank ·

Bewoord liewer, ALMAL wat op vorm is, is ‘n moet.
Niemand moet gekies word ten koste van die wereldbeker nie, net agv politieke korrektheid nie

George ·

Hopelik perform hy onder druk, hierdie warmups beteken niks.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.