SA se krieketwêreldbeker misoes, wat nou?

Temba Bavuma. (Foto: Dibyangshu Sarkar/AFP)

Die pad vorentoe vir Suid-Afrikaanse krieket gaan nou deur ʼn paneel deskundiges uitgestippel word wat deur Krieket Suid-Afrika aangestel is om die span se soveelste teleurstellende vertoning by ʼn Wêreldbekertoernooi te ondersoek.

Wees maar byna verseker, indien daar nie diep gekrap word en na krieket op alle vlakke gekyk word nie, sal die verslag na alle waarskynlikheid op dieselfde rak beland as van die voriges.

Sedert 1992 kon Suid-Afrika in agt eendag-Wêreldbekertoernooie en ses T20-Wêreldbekertoernooie nog nooit verder as die halfeindstryd vorder nie.

Ná byna elke hartverskeurende WB-toernooi word daar gekrap en gekrap sonder om oplossings te vind.

Ja, die spelers en afrigtingspan wat in Australië teen Nederland in die saal was en skokkend uitgeskakel is in vanjaar se T20-Wêreldbekertoernooi, sal eerstens pa moet staan en vrae beantwoord.

Van die vrae wat beantwoord sal moet word, is of die blaam by die kolwers lê, of was die voorafbeplanning swak nadat daar in ʼn eendagreeks teen Indië meegeding is kort voor die T20-Wêreldbekertoernooi toe baie spanne reeds in Australië voorberei het?

Was dit dalk weer ʼn geval van die sogenaamde stik-etiket (choker) wat om die span hang, of het die span bloot vir Nederland onderskat?

Daar sal ook oorweeg moet word of Temba Bavuma werklik die regte keuse as kaptein en aanvangskolwer was ondanks sy swak kolfpeil, en hoekom Reeza Hendricks nie meer kanse gekry het nie. Sou die jong Dewald Brevis dalk ʼn verskil kon gemaak het?

Die krieketbase sal ook in die spervuur moet wees en daar sal geen agendas kan wees of heksejag uitgevoer word teenoor enige persoon wat sy mond uitspoel nie.

Dis dalk ʼn droom, maar die toekoms van Suid-Afrikaanse krieket is op die spel.

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.