Spoeg bly taboe op krieketveld

Foto: Phill Magakoe/AFP. 

ʼn Tydelike reël in die Covid-19-era het nou amptelik ʼn permanente storie op die krieketveld geword: Spelers mag nie meer speeksel gebruik om die bal blink te vryf nie.

Volgens die Internasionale Krieketraad (IKR) is die reël met die uitbreek van die wêreldwye pandemie in 2020 afgedwing; alles in ʼn poging om die verspreiding van die virus tydens wedstryde te keer.

“Tydens die verbod het spelers sweet gebruik om die bal blink te poets. Daar is intussen bevind dat hierdie metode doeltreffend is,” het die internasionale krieketbeheerliggaam gesê.

Wanneer ’n span moet veldwerk doen, is daar altyd een of twee spelers wat kliphard werk om die een kant van die bal blink te hou. Die rede waarom dié blinkpoetswerk so ernstig geneem word, is omdat dit help met die swaai van ’n krieketbal.

Kortweg beteken dit dat die kant wat blink gevryf is minder weerstand teen die wind bied, terwyl die ruwer gedeelte natuurlik vir ’n bietjie meer weerstand sorg. Sodoende help die wind en die blink/ruwe kant van die bal dan met ’n bouler se in- of uitswaaiers.

Kookaburra, die firma wat die balle vervaardig waarmee daar toetskrieket in Australië en Suid-Afrika gespeel word, het destyds met ’n soort politoer vorendag gekom wat met ’n sponsie aangewend kan word.

Dan het wyle Shane Warne ook ʼn unieke oplossing gereed gehad.

Die legendariese Australiese bybreekbouler het voorgestel dat die een kant van die bal sommer vanuit die staanspoor swaarder as die ander kant moet wees; amper soos wat in rolbal gebeur, of ’n tennisbal wat met kleefband toegedraai is.

“Dit sal vir ’n goeie tweestryd tussen kolwers en boulers sorg. Ek glo dit sal ’n naatbouler beslis help op ’n warm dag wanneer die kolfblad op sy makste is,” het hy gesê.

Maar ná die onlangse toetsreeks tussen Suid-Afrika en Engeland – waar ’n rits paaltjies geval het – is dit duidelik dat naatboulwerk in gunstige toestande steeds die uitklophou kan plant.

Selfs sonder die gebruik van spoeg.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

7 Kommentare

Louis ·

Soos janjies sommer in die kleedkamer ook spoeg so tyd gelede. Waar kom hulle daaraan. Geen respek vir ander nie

miche ·

Ek wens die gespoegery word orals verbied.
Dis ‘n vieslike gewoonte wat almal se gesondheid in gevaar stel.
Kinders kan nêrens eens meer met veiligheid kaalvoet loop nie.
En waar is die dae toe dié persone wat op straat rommel gestrooi het, beboet was?

Koos 100 ·

As jy ‘n Australier is werk geel skuurpapier die beste!

George ·

Vra net Faf en die manne, hulle gebruik mos hulle zips ook.

George ·

Die verskil is dat CA opgetree het teen dies wat skuldig was, waar CSA ons skuldiges beloon het.

George ·

Gelukkig is ons ball tamperers al uitgetree, selfs die wat n metaal stuk met tande gebruik het, skip wat op meer as 2 geleenthede gevang is.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.