Stokes wil Engelse momentumvuur bly stook

Engeland se groep bly onveranderd vir die derde en beslissende toets teen die Proteas. Foto: Twitter.

Dit is duidelik dat die manne aan die stuur van Engeland se krieket (lees Ben Stokes, Brendon McCullum en Rob Key) nie veel aan ’n wenresep wil karring nie.

Die Engeland-groep bly onveranderd vir die derde en beslissende toets teen die Proteas op die Oval nadat hulle die Suid-Afrikaners met ’n beurt en 85 lopies op Old Trafford verrinneweer het.

Dit beteken dat Zak Crawley en Alex Lees nog ’n kans sal kry om die kolfwerk vir die Bleekbene te open.

Hoewel McCullum (afrigter) vroeër gesê het dat hy sal aanhou om ’n sukkelende speler soos Crawley te kies, het daar beslis ’n swaard bo die 24-jarige speler se kop gehang.

Hy het in Maart laas ’n honderdtal vir Engeland geslaan, terwyl hy ook harde bene teen die Protea-boulaanval in die huidige reeks gekou het.

Maar sy vegtersbeurt op ’n moeilike Old Trafford-kolfblad (38 lopies van 101 aflewerings) het egter die grondslag vir Stokes en Ben Foakes gelê om later teen die Suid-Afrikaners te baljaar.

Dit was duidelik die nodige doepa om sy loopbaan met ’n toets of twee te verleng.

“Dan staan spelers ook nie eintlik tou om die kolfwerk vir Engeland te open nie. Almal wil graag in die middelorde speelkans kry,” het Key gesê.

Volgens Engeland se direkteur van krieket word daar hard agter die skerms gewerk om openingskolwers te kry wat Andrew Strauss en Alastair Cook se skoene kan volstaan.

“Ons wil almal voldoende geleenthede gee om hul stempel af te druk. As daar ooit ’n nuwe paar openingskolwers op die toneel verskyn, sal ons hulle net soveel kans gee as vir Alex en Zak.”

Op sy beurt sal Stokes nie sy voet van die versnelpedaal wil haal nie. Hy is immers saam met McCullum die meesterbrein agter Engeland se nuwe onverskrokke benadering.

Die derde toets begin op 8 September.

Engeland-groep vir beslissende toets op die Oval: Zak Crawley, Alex Lees, Ollie Pope, Joe Root, Jonny Bairstow, Ben Stokes (kaptein), Ben Foakes, Stuart Broad, Jack Leach, Ollie Robinson, James Anderson, Harry Brook, Craig Overton en Matthew Potts.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Snuffelgids ·

So hy is onder druk want hy het Maart laas n honderdtal gemaak…en ons Bavuma, nog net een (1)(singular, not more than one, once off) in sy 51 toetse…Hy sal seker geen ander toets span haal nie

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.