WB-geskiedenis wink vir Proteas teen Aussies

Rassie van der Dussen. (Foto: Indranil Mukherjee/AFP)

Presies ʼn maand gelede het Suid-Afrika vir Australië met 134 lopies in Lucknow geklop.

ʼn Veglustige Quinton de Kock het toe sy tweede honderdtal van die toernooi aangeteken, terwyl Aiden Markram en David Miller ook vinnige lopies in die Protea-beurt van 311/7 geslaan het. Daarna het Kagiso Rabada en Keshav Maharaj die Aussies tot 177 lopies beperk.

Maar dit is in die verlede en sedertdien het daar reeds baie water in see geloop.

Suid-Afrika het gewys dat sy kolfreuse soms oor voete van klei beskik wanneer hulle ʼn telling moet jaag, terwyl Australië sewe wedstryde op ʼn streep in aanloop tot die uitspeelrondes gewen het.

Volgens Rassie van der Dussen sal die Lucknow-triomf weinig tel wanneer die twee spanne Donderdag in een van die Wêreldbeker-halfeindstryde op Eden Gardens speel.

“Dit gaan baie anders wees want ʼn klomp van hul spelers was al vantevore in uitklopwedstryd-situasies gewees en as ʼn krieketspelende land weet hulle hoe om Wêreldbeker-toernooie te wen,” het die Protea-kolwer gesê.

Australië het reeds vyf keer in sy krieketgeskiedenis (in 1987, 1999, 2003, 2007 en 2015) met die Wêreldbeker-louere weggestap, terwyl die span in 2019 in die halfeindstryd gespeel het.

“Ons het egter die toernooi met die ingesteldheid benader dat ons elke liewe wedstryd doodeenvoudig móét wen en dit gaan nie nou verander nie. Dit beloof om ʼn goeie kragmeting te wees – hulle is ʼn sterk span.”

Suid-Afrika het in twee vorige halfeindstryd-wedstryde (in 1999 en 2007) die onderspit teen Australië gedelf, maar Van der Dussen meen dat dinge nou in plek vir die Proteas kan val as hulle na hul volle potensiaal speel.

“Die eindstryd is op 19 November en ons sal wees waar ons moet wees; ongeag of ons die silwerware omhoog hou of nie. Wat moet gebeur sal gebeur, maar ons sal ongetwyfeld ons heel beste gee.”

Die Proteas het sewe van sy nege groepwedstryde in Indië gewen. (Foto: Punit Paranjpe/AFP)

  • Halfeindstryd-bepalings:

Woensdag: Indië teen Nieu-Seeland om 10:30

Donderdag: Suid-Afrika teen Australië om 10:30

Suid-Afrika se pad na die halfeindstryd:

Klop Sri Lanka met 102 lopies

Klop Australië met 134 lopies

Verloor teen Nederland met 38 lopies

Klop Engeland met 229 lopies

Klop Bangladesj met 149 lopies

Klop Pakistan met een paaltjie

Klop Nieu-Seeland met 190 lopies

Verloor teen Indië met 243 lopies

Klop Afghanistan met vyf paaltjies

Australië se pad na die halfeindstryd:

Verloor teen Indië met ses paaltjies

Verloor teen Suid-Afrika met 134 lopies

Klop Sri Lanka met vyf paaltjies

Klop Pakistan met 62 lopies

Klop Nederland met 309 lopies

Klop Nieu-Seeland met vyf lopies

Klop Engeland met 33 lopies

Klop Afghanistan met drie paaltjies

Klop Bangladesj met agt paaltjies

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.