Mening: Wat gaan aan met ons atletiek?

Vir die derde agtereenvolgende Wêreldbyeenkoms kon Suid-Afrika se atlete geen medalje wen nie. (Foto: Attila Kisbenedek/AFP)

Dis nie lekker om ʼn artikel op so ʼn negatiewe noot te begin nie, maar dit kan nie anders ná die inploffing van ons atlete by die onlangse Wêreldkampioenskap nie.

Nie ʼn enkele medalje is deur die 36 atlete teruggebring nie. En was dit wel ʼn inploffing of eerder ʼn gebrek aan gehalte?

Wat gaan aan met ons atletiek? Dit is hoog tyd dat daar van buite af ondersoek na die beheerliggaam Atletiek Suid-Afrika ingestel word oor die sport wat toenemend aan’t sink is.

Ja, ʼn mens kan Akani Simbine se vroeë wegspring in die 100 m-eindloop en die derde oorgee in die mans 4 x 100 m-finaal uitwys as ongelukkighede – laasgenoemde minder so, want selfs in die kwalifiserende wedloop het dit opvallend nie met die oorgee goed gegaan nie. (Dalk te min ingeoefen? Dit is immers die tweede groot atletiekbyeenkoms die afgelope tyd waar Suid-Afrika se atlete die stokkie laat val het.)

Wayde van Niekerk in aksie in Boedapest. (Foto: Jewel Samad/AFP)

Ter effense versagting was daar Wayde van Niekerk wat ná sy besering ses jaar gelede nie sy onlangse rits goeie vertonings by die kampioenskappe kon nadoen nie.

Dit gaan egter veel verder as bogenoemde voorbeelde. Daar was bitter, bitter min Suid-Afrikaanse atlete wat gelyk het of hulle hoegenaamd op ʼn byeenkoms van dié gehalte hoort.

Waar lê die fout? Afrigting? Swak administrasie? Albei, sou ʼn mens raai.

Of is dit ʼn gebrek aan geleenthede/ goeie kompetisie so ver van groot byeenkomste in Europa af?

Maar hoekom kon ons buurland Botswana dan veel beter vaar? Of ander mindere sportlande soos die Britse Maagde-eilande, Burkina Faso, Ecuador, Peru en die Dominikaanse Republiek wat medaljes gewen het?

Wat dit rede ook al mag wees, is dit hoogtyd dat die Suid-Afrikaanse Atletiekfederasie sy pligte begin nakom. Op voetsool- en junior-vlak is dit letterlik chaos in die meeste van die provinsies. Gaan kyk maar gerus wat by byeenkomste aangaan…

Dis weer klubrugby se beurt

Die nasionale klubkompetisie om die Gold Cup wat op 9 September afskop, sal vanjaar buitengewoon belangrik wees.

Suid-Afrikaanse spanne se skuif na Europese kompetisies het tot gevolg gehad dat die Curriebekerreeks hier en daar afgeskeep moes word oor die groter belangrikheid van die Verenigde Rugbykompetisie, en die kompetisies van die Europese Kampioenskapstrofee en Europese Uitdaagreeks.

Argieffoto (Foto: Shutterstock)

Terwyl dit wel vir die ander spanne soos die Pumas, die Griekwas, die Griffons en andere kans gegee het om hul geledere aan te vul met van die beste spelers buite die Europese kompetisies, het die franchise’e swaar getrek om op twee fronte hul beste voet voor te sit.

Die Gold Cup-reeks sal vanjaar met 32 spanne afskop – twee spanne van elk van die 14 unies, plus twee van Limpopo wat tans ʼn subunie van die Bulls is, met drie addisionele uitnodigingspanne (Centurion, Wesbank en Unie-Milnerton).

Dit beteken dat daar vyf spanne in die Gold Cup-kompetisie sal wees wat in die Bulle se Carltonliga speel: Naka Bulls, Northam Rhinos, Harlequins, Wolverines, en Centurion.

Die volledige lys spanne en loting was by die skrywe hiervan nog nie beskikbaar nie.

Die struktuur is vanjaar ietwat verander, met elke rugbyunie en ook Limpopo, ʼn subunie van die Blou Bulle, wat elk twee spanne in die uitklopreeks sal hê.

Agtergrond tot die Gold Cup-kompetisie

Die universiteite het die Varsitybeker en die Varsityskild as kompetisies. Maar Suid-Afrika se voorste oopklubs het sedert 2012 hul eie kompetisie waar hulle sonder die universiteite deelneem. (Sedert die 1970’s is die jaarlikse Paastoernooi in Durban gehou met agt uitnodigingspanne wat op uitnodiging gespeel het. Oor die jare het die oopklubs maar weinig kere gewen.)

Die Gold Cup, van nege karaat (sagte) goud, is een van die mees waardevolle trofeë in SA Rugby se trofeëkas. Dit kom uit die era toe daar nog heelwat “nasionale rugbyliggame” in Suid-Afrika bestaan het.

Die trofee is sowat ʼn eeu gelede in Engeland gemaak met die doel om dit te skenk aan die wenner van ʼn jaarlikse vliegtuig-wedren tussen Londen en Kaapstad wat toe nie plaasgevind het nie.

Dit het toe die trofee geword vir die wenners van die SA Rugbyfederasie (SARFF) se top-kompetisie  tussen 1961-1974.

Toe die SARFF in 1978 by die SA Rugby Board (SARB) aangesluit het, het die Gold Cup die trofee geword vir alle provinsiale kompetisies van die geaffilieerde unies tot in 1991.

Rugby-eenheid onder die SA Rugbyvoetbalunie is in 1992 behaal en die Gold Cup is aanvanklik vir verskeie kompetisies van die verenigde groter provinsiale kompetisies aangewend.

Sedert 2013 is dit egter die trofee waarom die Suid-Afrikaanse klubs meeding.

Bulls en Blou Bulle se goue jaar

Ja, daar was nie vanjaar ʼn Curriebeker vir die Bulls en Blou Bulle nie – met die Vrystaat wat in die Curriebeker koning gekraai het. Tog was dit vir die Bulls en Blou Bulle ʼn uitstekende jaar – en ek praat nie hier net van rugbyresultate nie.

(Foto: GB Jordaan)

By die skrywe van hierdie artikel is die Bulls se Daisies die eerste vroue-beroepspan in Suid-Afrikaanse rugby wat op dieselfde vlak as die mans betaal word. Hulle het die vroueliga vanjaar heeltemal oorheers en, amper vernederend wil ʼn mens sê, hul kompetisie Saterdag gewen toe hulle die WP in die eindstryd op Loftus met 69-8 geklop het.

Hul uitslae is ook nie tot die uitspeelrondes beperk nie. Die Daisies het ál 12 hulle wedstryde voor die eindstryd gewen, 111 drieë teen net sewe gedruk en in elke wedstryde bonuspunte behaal.

Vroeër in die seisoen het die Daisies ook die WP se vrouespan met 43-5 en 41-0 in die ligawedstryde afgeransel.

Dis natuurlik iets om op trots te wees, maar dit is ook in internasionale konteks belangrik. Die samespel en ontwikkeling van hierdie klompie top-spelers in Suid-Afrikaanse vrouerugby het gewys wat moontlik is.

Dit sal ongetwyfeld vir die vroue-Bokke tot groot voordeel op internasionale vlak wees.

Bulls se juniors

Die Bulle se diepte op junior-vlak strek boonop ook oor sy grense. Hulle sal oor die volgende maande hul titel in die o.21-reeks verdedig – en daar is inhaalwerk wat wag met die Luiperds wat die jong Bulle Saterdag in die eerste wedstryd geklop het!

Maar dit gaan in die geheel goed by die Bulle se klubs waar daar so ʼn oorvloed juniorspelers is, dat 24 van hul klubspelers die Valke en die Pumas in die o.21-Skildkompetisie sal verteenwoordig.

▪  Hulle is tans ook die o.19-kampioenspan Dit sluit aan by die BBRU wat in samewerking met Uxi Sport vanjaar die oorgrens o.20-reeks tot stand gebring het met die doel om jong klubspelers die geleentheid te gee om hul vaardighede te ontwikkel.

Daar het 21 klubspanne aan die reeks in drie afdelings, die Noord-, Suid- en Sentrale streke, deelgeneem met o.20-spanne van die Cheetahs, Blou Bulle, Pumas, Griekwas, Valke, Luiperds en die WP se rugbyunies wat mekaar opgekeil het.

Noord-Transvaal se drie verteenwoordigers wat vir die uitspeel tussen die unies gekwalifiseer het, is Tukkies, Naka en Centurion.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Nommer 7 ·

Soos die res, SWAK BESTUUR! Kader aanstellings is soos om ‘n vuurwapen vir ‘n onbevoegde persoon te gee, aldus minister Enoch Godongwana.

piet ·

Die een ding is dat dit besonders moeilik is om medaljes by die Wereldbeker Atletiek te wen. Die span wat die 2de meeste medaljes gewen het na die VSA is byvoorbeeld Kanada met 6. Ons het realisties gesproke “dalk” 2 medalje kanse gehad. Die naelloper (wat gdiskwalifiseer is maar as jy na die medalje-wenners se tye kyk sou hy waarskynlik dit in elk geval nie gemaak het nie en dan Wade wat ‘n buiteperd was (maar nie ‘n realistiese kans gehad het nie).

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.