Moolman vier eerste internasionale sege

Deur Rudolph Lake

Ashleigh Moolman-Pasio. Foto: Facebook.

Sy wou die einde van die seisoen uitgetree het, maar Ashleigh Moolman-Pasio se besluit om aan te hou jaag, is Sondag beloon met haar eerste algehele sege ooit op die wêreldverhoog.

Die 36-jarige Moolman-Pasio is as wenner van die Tour de Romandie in Switserland gekroon nadat sy Saterdag die voorlaaste skof gewen en die voortou geneem het.

In Sondag se derde en laaste skof het die Suid-Afrikaner haar voorsprong beskerm en met ʼn 24ste plek in die skof oor 147,6 km tussen Fribourg en Genève die algehele eerste posisie beklink.

Die laaste skof is deur Marta Lach (Ceratizit-WNT) in ’n naelrit na die eindstreep gewen. Haar wentyd van 3 uur 48 minute en 47 sekondes was dieselfde as Moolman-Pasio (SD Worx) s’n wat saam in die bondel oor die eindstreep gejaag het.

“Dit is ’n fantastiese wyse om die seisoen af te sluit. Ek het vroeër vanjaar besluit om aan die einde van die seisoen uit te tree, maar in Meimaand het ek twee keer begin dink oor dié besluit. In Augustus het my planne verander en ek het besluit om aan te hou met jaag. Hierdie oorwinning is ’n duidelike bewys dat my besluit om aan te hou, die regte een was.

“Om die seisoen op ’n hoogtepunt te kan afsluit en ’n boonop ’n skofoorwinning in ’n moeilike bergskof te kon behaal, is absoluut fantasies en gee my baie selfvertroue en motivering om hard te oefen tydens die komende afseisoen sodat ek volgende jaar sterker en beter kan wees,” het Moolman-Pasio ná haar sege gesê.

Die Suid-Afrikaanse fietsryer se oorwinning was soeter as net ’n eerste titel op fietsry se hoogste vlak.

Sy het onder andere met die nuut gekroonde wêreldkampioen Annemiek van Vleuten (Movistar) afgereken.

Dié Nederlander het vanjaar die Tour de France en die padwedren op die Wêreldkampioenskap gewen, maar het Sondag 30 sekondes agter Moolman-Pasio in die tweede plek geëindig.

Moolman-Pasio het vanjaar ’n hele paar stewige vertonings gelewer, met ’n derde plek in Maart in die Strade Bianche-eendagwedren in Italië die hoogtepunt van die boorling van Pretoria se seisoen voor Sondag se groot internasionale sege.

Bron: VeloNews

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.