Met Dale Steyn, Vernon Philander, Kagiso Rabada en Duanne Olivier aan die stuur van sake, het die Proteas met ’n snelbouler-battery die Pakistani’s op Nuweland gekasty om binne ’n paar dae met nege paaltjies te wen.
Maar dié spogsege kom egter teen ’n prys …
Dit sal nou ’n Faf-lose derde toets wees wanneer die Proteas vir Pakistan komende Vrydag op die Wanderers aanvat. Die Suid-Afrikaanse hardebaardkaptein is vir een wedstryd geskors ná die Proteas beboet is omdat hulle hul boulbeurte te stadig afgestuur het.
Met die draaier, Keshav Maharaj, op die kantlyn het die blitsboulers amper 122 boulbeurte in die wedstryd geboul. Maharaj se draai-aflewerings kon die boulbeurttempo verhoog het, juis omdat draaiers hul boulbeurte vinniger kan voltooi. Tog het die 20 spotgoedkoop Pakistanse paaltjies sy weglating regverdig.
Du Plessis se afwesigheid sal ’n gevoelige terugslag wees: hy het sy twee nulletjies op Centurion met ’n kanniedood-honderdtal op Nuweland gewreek, terwyl hy met ’n paar slim veldwerkplasings vorendag gekom het om van die Pakistanse kolwers ontslae te raak.
Maar die een se nood is die ander se brood en Du Plessis se afwesigheid kan ’n reddingsboei vir Theunis de Bruyn gooi.
Die 26-jarige De Bruyn is vuurwarm in eersterangse krieket, maar sukkel nog om sy kolfvoete op die internasionale verhoog te vind. In 16 kolbeurte vir die Proteas kon hy slegs 290 lopies slaan, teen ’n gemiddeld van 19.33. Hy sal dus oorgehaal wees om sy staal te wys, veral met Zubayr Hamza wat hard in sy nek blaas.
Met Du Plessis wat onbeskikbaar is vir die derde toets, sal die kapteinsarmband waarskynlik deur óf Hashim Amla, óf Aiden Markram, óf Dean Elgar gedra word.
Suid-Afrika loop 2-0 voor in die reeks van drie toetse.
Ek dink maar dis swak. Al is Dean Elgar ‘n draaibal bouler wat deeltyds gebruik word kon du Plessis hom gebuik het om die boul tempo op koers te hou, veral toe die staatmaker kolwers van Pakistan al uit was
Dis nou een reël wat volgens my mening aanpassings nodig het. Ek verstaan dat daar 90 boul beurte per dag gespeel moet word, maar die reël maak bykans dat alle toetse met draaiers gespeel moet word. Dan moet die kaptein die gevolge van die keurders en bestuur se keuses dra.
@Koos, as SA/AUS/WI/PAK dit vir jaaaare kon doen, wat maak Faf spesiaal? Behalwe dat hy kan baltampering saam Philander en kie, en nogsteeds speel.
Uiters swak, hoeveel keer moet Faf oor die vingers getik word? “ons het 4 vinnige bowlers” patetiese verskoning.