148 toetse – Whitelock nou gelyk met McCaw

Nieu-Seeland se Sam Whitelock. Foto: Andrew Cornaga/AFP.

Sam Whitelock sal Vrydag in Toulouse in sy 148ste toets vir die All Blacks uitdraf wanneer die Nieu-Seelanders teen Namibië in ʼn Wêreldbeker-wedstryd speel.

Die 34-jarige slot, wat 2,03 m in sy sokkies staan en die skaal op 120 kg laat kreun, het 13 jaar gelede sy internasionale buiging teen Ierland gemaak en hy het terstond die mylpaal met twee drieë gevier.

Benewens sy magdom toetse het hy ook al die All Blacks ʼn paar keer op die veld aangevoer, terwyl hy met twee Wêreldbeker-wennersmedaljes spog.

“Sam se 148ste toets is ʼn baie groot geleentheid vir hom en vir die span. Hy is ʼn All Black-kryger en om Richie se rekord te ewenaar is ʼn ongelooflike prestasie,” het Ian Foster gesê.

Volgens die Nieu-Seelandse rugbyafrigter wil die All Blacks hul stempel teen die Namibiërs afdruk; Whitelock moet immers met ʼn glimlag na sy mylpaalwedstryd kan terugkyk.

“Só ʼn prestasie verdien ʼn goeie vertoning en ons wil graag ná die wedstryd saam met hom feesvier.”

Ardie Savea sal die Kiwi’s se kapteinskapleisels vasvat en die sterlosvoorspeler sê dat Whitelock ʼn speler is na wie hy nog altyd opgekyk het.

“Sam is een van die hardwerkendste spelers in die groep en ek het baie respek vir die wyse waarop hy net by alles kan aanpas. Hy is immers al deel van die All Black-opset sedert die dae van Richie en Kieran Read.”

Whitelock sal saam met Brodie Retallick in die Nieu-Seelanders se lynstane rank.

Die wedstryd begin Vrydag om 21:00 en die aksie word regstreeks op SuperSport uitgesaai.

All Blacks: Beauden Barrett (heelagter), Caleb Clarke (regtervleuel), Anton Lienert-Brown (buitesenter), David Havili (binnesenter), Leicester Fainga’anuku (linkervleuel), Damian McKenzie (losskakel), Cam Roigard (skrumskakel), Ardie Savea (kaptein en agtsteman), Dalton Papali’i (flank), Luke Jacobson (flank), Sam Whitelock (slot), Brodie Retallick (slot), Nepo Laulala (stut), Samisoni Taukei’aho (haker) en Ofa Tuungafasi (stut). Plaasvervangers: Dane Coles, Ethan de Groot, Fletcher Newell, Scott Barrett, Tupou Vaa’i, Aaron Smith, Richie Mo’unga en Rieko Ioane.

Namibië: Cliven Loubser (heelagter), Gerswin Mouton (regtervleuel), Johan Deysel (kaptein en buitesenter), Le Roux Malan (binnesenter), Divan Rossouw (linkervleuel), Tiaan Swanepoel (losskakel), Damian Stevens (skrumskakel), Richard Hardwick (agtsteman), Prince Gaoseb (flank), Wian Conradie (flank), Tjiuee Uanivi (slot), Johan Retief (slot), Aranos Coetzee (stut), Torsten van Jaarsveld (haker) en Jason Benade (stut). Plaasvervangers: Louis van der Westhuizen, Des Sethie, Haitembu Shifuka, PJ van Lil, Adriaan Booysen, Max Katjijeko, Jacques Theron en JC Greyling.

 

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.