28 – 0: Aussies gee Blitse bloedneus

Geen deurkomkans. Australië het die Blitsbokke met 28 – 0 geklop. (Foto: Hansie Linde)

Die Blitsbok-spelers loer seker steeds oor hul skouers – die spook van verlede seisoen se ploetervertonings is duidelik nog nie uit hul kamp verdryf nie.

Australië het Suid-Afrika pas ʼn hengse bloedneus op die sewesrugbyveld gegee toe hulle die twee spanne se kwarteindstryd-ontmoeting met 28 – 0 in Kaapstad beklink het.

Ooit gewonder hoe jy honderde patriotiese toeskouers tjoepstil speel?

Australië het kop en skouers bo Suid-Afrika uitgetroon. (Foto: Hansie Linde)

Vra net die Blitsbokke.

Want die Aussies het vier drieë gedruk en Maurice Longbottom het na hartelus die bal oor die dwarslat gejaag.

Die tuisspan se swak hanteerwerk, ’n woer-woer-strafskoppoging wat nie die kantlyn gevind het nie en algehele doellose spel het as’t ware die wedstryd op ʼn skinkbord weggegee.

Boonop is Quewin Nortjé vroeg in die eerste helfte met ʼn geel kaart van die veld gestuur, terwyl Suid-Afrika bitter selfde, of indien óóit, in Australië se doelgebied was.

ʼn Mens wil nooit onnodig gal braak nie – gʼn span gaan immers uit om ʼn wedstryd op sy tuisveld te verloor nie – maar dit voel asof die Blitsbokke met een swak vertoning al die harde werk van Dubai onklaar gemaak het.

Kritici sê mos gereeld dat ʼn span net so goed soos sy laaste wedstryd is. En die Suid-Afrikaners het nou ongelukkig met ʼn baie swak vertoning vorendag gekom.

Hulle is beslis beter as dit.

  • Puntemakers:

Suid-Afrika: Geen

Australië: Drieë: Nathan Lawson (2), Hayden Sargeant en Dietrich Roache. Doelskoppe: Maurice Longbottom (3) en Roache.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

George ·

en niemand se n woord oor die swak kit nie. Die we buy cars logo lyk terrible, verwerk hom om te pas

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.