Ag nee man, Lions!

(Foto: Lions Rugby/Twitter)

“Bêk toe de bysieks, boois!”

Jy hoef nie ’n vlieg teen die muur te wees om te weet wat die frustreerde Lions-afrigters vir hul span in die kleedkamer ná vandag se rampspoedige wedstryd teen die Blues in Auckland gesê het nie.

Voeg maar gerus ’n paar gegeurde woorde daarby, want die Lions is met 43 – 10 verrinneweer.

Dit was veral hul verdediging wat hulle in die steek gelaat het en die tuisspan het behoorlik uit hul têkkel-flaters munt geslaan.

Om meer as 30 duikslae te mis is doodeenvoudig net nie goed genoeg op Superrugby-vlak nie. Kom ons stel dit in persfektief: As die Lions-verdedigers buite ’n gimnasium in Bethal gestap het, sou hulle waarskynlik die boef misgetêkkel het.

Veral Rieko Ioane was gevaarlik op die aanval en hy het twee drieë gedruk.

Die Johannesburgers is tans 14de op die gekombineerde punteleer van die reeks.

  • Puntemakers:

Blues: Drieë: Rieko Ioane (2), Stephen Pefofeat, strafdrie, Gerald Cowley-Tuioti, Hoskins Sotutu. Doelskoppe: Otere Black (4). Strafskop: Black.

Lions: Drië: Dan Kriel. Doelskop: Elton Jantjies. Strafskop: Jantjies.

  • Intussen is daar ’n moontlikheid dat die Superrugby-seisoen ook weens Covid-19 afgelas kan word.

Die Nieu-Seelandse regering het vandag gesê dat alle reisigers wat na die land terugkeer hulself vir 14 dae in self-isolasie moet plaas. Dit geld ook vir Nieu-Seelandse burgers.

In die Blues, Crusaders, Highlanders, Hurricanes en Chiefs het die Kiwi’s vyf Superrugbyspanne wat gereeld na Australië, Suid-Afrika en Argentinië reis.

Hoewel Sanzaar (Superrugby se beheerliggaam) nog nie ’n amptelike besluit oor die toekoms van vanjaar se reeks gemaak het nie, sal die wedstryd tussen die Jaguares en die Highlanders in Argentinië agter geslote deure gespeel word.

Geen toeskouers sal ook vanaf volgende week by wedstryde in Australië toegelaat word nie.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.