All Black-afrigter se kop geëis

Ian Foster. Foto: Michael Bradley/AFP.

Die lang messe is uit vir die All Blacks se afrigter, Ian Foster. Dit volg op sy span se reeksnederlaag teen Ierland – en dít boonop op hulle tuisveld.

Die Nieu-Seelanders skarrel nou rond om voor die toetse teen die Springbokke op 6 en 13 Augustus oplossings te vind.

Foster het ʼn nuuskonferensie ná die nederlaag gekanselleer en gesê hy is nie bereid om oor sy pos te praat nie, maar slegs oor die wedstryd. Maar dit was net olie op die vuur van die passievolle Nieu-Seelandse rugby-ondersteuners. Sosiale media het gegons van woede oor die nederlaag en dit was direk teen Foster gerig.

Die All Blacks het vier van hulle afgelope vyf toetse verloor. Foster kon net 8 van die 24 toetse wen tydens sy termyn as afrigter.

Selfs oudkaptein Sean Fitzpatrick het gesê Ierland was beter afgerig as die All Blacks. Maar die mense wat betrokke sal wees by die besluit oor Foster se toekoms as afrigter, die rugbybase, het blykbaar ook reeds teen hom gedraai. Mark Robinson, uitvoerende hoof van Nieu-Seeland Rugby, het in ʼn kort verklaring gesê daar sal ʼn dringende oorsig gedoen word oor die reeksnederlaag teen Ierland. Dit is die eerste keer in die beroepsera dat die manne in swart truie ʼn tuisreeks verloor. Robinson het die nederlaag as “onaanvaarbaar” beskryf. “Ons almal weet daar lê reusewerk voor.”

Sou Foster uitgeskop word, is die naam van die Crusaders se afrigter, Scott Robinson, een van die eerstes wat in die media genoem is as moontlike opvolger. Joe Schmidt, ʼn Nieu-Seelander wat voorheen vir Ierland met groot sukses afgerig het, is juis by die afrigtingspan gevoeg vir die Rugbykampioenskap. Hy word ook beskou as ʼn moontlike opvolger vir Foster.

Nieu-Seeland het laas in 2002 tussen Wêreldbeker-toernooie die afrigter verander. Wayne Smith was ʼn teleurstelling en hy is toe deur John Mitchell vervang.

In Australië lek hulle ook hulle wonde ná die reeksnederlaag teen Engeland. Afrigter Dave Rennie het gesê sy span sal beter moet vaar. Hulle begin vandag met voorbereidings vir volgende maand se Rugbykampioenskap. Volgens Rennie het hulle in die beslissende toets te veel kanse verspeel al het hulle geleenthede geskep om punte aan te teken.

Intussen het Argentinië teruggeveg om Skotland gisteraand in Santiago del Estero met 34-31 te klop om die reeks met 2-1 te beklink.

Emiliano Boffelli het in die 81ste minuut die wendrie gedruk nadat die tuisspan, met 30 minute speeltyd oor, reeds met 15 punte agter was.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Anton J ·

Ek gaan seker nou baie slae kry, maar ek like dit kwaai. Die probleem was nooit by die spelers of die afrigter van NS nie. Hulle het goeie rugby gespeel. Meeste ondersteuners het hulle begin “verafgod”. Ek voel jammer vir die span wat so mooi rugby kon/kan speel maar hulle ondersteuners wêreldwyd het later die grond begin aanbid waarop hulle loop dat ek later besluit het, as SA en NS teen mekaar speel, kyk ek alleen. Niks teen NS self nie, maar baie teen hul ondersteuners.

Frans ·

Die All Black afrigter sukkel met ‘n spelpatroon.Ierland se sukses is gebou op die Leinster patroon,terwyl NZ maar traag is om die Crusader se spelpatroon te volg.Suid Afrika het dieselfde probleem en sukkel dikwels om spelers uit verskillende bonde suksesvol in ‘n span saam te voeg.

NZ het darem die voordeel dat feitlik al hul top spanne ‘n variant van die Crusaders spelpatroon afhangende van die spelers waaroor hul beskik volg en dus gouer ‘n oplossing as die Bokke sal vind,wat met ‘n eksperimentele span amper die reeks teen Wallis verloor het

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.