All Blacks moet op hul hoede vir Dupont wees

Frankryk se Antoine Dupont. (Foto: Franck Fife/AFP.)

Net soos wat een swaeltjie nie noodwendig die koms van somer inlui nie, só maak een nederlaag nie van die All Blacks ʼn swak rugbyspan nie.

Dít is die mening van Antoine Dupont; Frankryk se kaptein en volgens talle ontleders die voorste rugbyspeler ter wêreld.

“Die All Blacks het weliswaar ʼn opwarmingswedstryd teen Suid-Afrika verloor, maar vóór daardie kragmeting het hulle ʼn rits toetse op ʼn streep gewen,” het die Franse skrumskakel gewaarsku.

Die Hane speel Vrydag in die openingswedstryd van die Wêreldbekertoernooi teen die Kiwi’s en die tuisspan is oorgehaal om sommer so vanuit die staanspoor hul stempel op die rugbyskouspel af te druk.

“Dit is ʼn baie belangrike wedstryd; nie net om ons enjin aan die gang te kry nie, maar ook om te verseker dat ons die nodige ondersteuning gedurende die toernooi geniet.”

Die 26-jarige speler is ongetwyfeld die spil waarom die Fransmanne se sukses draai: Vlok Cilliers het al vantevore gesê dat hy ’n baie spesiale speler is, terwyl Sam Cane ook sy lof besing het.

“Volgens wat ek gesien het, maak hulle baie op Dupont staat om die nodige vonk te verskaf. Sy skrumskakeldiens is uitstekend, terwyl hy ook baie gevaarlik met die bal in die hand is. Sodoende skep hy baie ruimte vir ander spelers omdat al die verdedigers se aandag op hom gevestig is,” het die Nieu-Seelandse kaptein en flank gesê.

Ondanks die ontydige beserings van Romain Ntamack, Jonathan Danty en Paul Willemse is Frankryk steeds een van die gunstelingspanne om met die uiteindelike louere weg te stap.

ʼn Etiket wat Dupont met trots om die nek dra.

“Ons was nog nooit so goed voorbereid vir ʼn Wêreldbeker nie. Ons het 80% van ons wedstryde in aanloop tot die toernooi gewen en ons het die Sesnasies in 2022 gewen. Ons is ʼn talentvolle groep spelers wat goeie ervaring opgedoen het.”

Net ter afsluiting: Die Hane het die All Blacks met 40 – 25 in 2021 op die Stade de France geklop en Dupont was toe een van sy span se grootste sterre.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Niklaas ·

Dupont verdien al hierdie lofgesange. Hy is ongelooflik talentvol.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.