All Blacks sonder kaptein Cane

Nieu-Seeland se Sam Cane. Foto: Phill Magakoe/AFP.

Sam Cane sal die All Blacks se laaste Rugbykampioenskap-wedstryd teen die Wallabies misloop. Die 30-jarige losvoorspeler het verlede week ʼn hou teen die kop in die Nieu-Seelanders se oorwinning van 39–37 in Melbourne gekry.

Die ervare Sam Whitlock – en nie Ardie Savea nie – sal nou die Kiwi’s in Auckland aanvoer.

Savea se derde kind is onlangs gebore en hy was nie deel van die aksie in die vorige toets teen die Aussies nie. Ian Foster (afrigter) meen dat dit ʼn rukkie sal neem vir ʼn speler om weer sy voete te vind nadat hy ʼn wedstryd misgeloop het.

“Ons het gevoel dat dit beter vir Ardie sal wees as hy sy terugkeer sonder enige bykomende verantwoordelikhede maak. Daarom het ons besluit dat Whitelock die kapteinleisels moet vasvat,” het Foster gesê.

In ander spannuus sal Jordie Barrett die skuif van heelagter na die middeveld maak om Rieko Ioane se sentermaat te wees.

“Jordie is ʼn speler wat die bal goed kan dra, terwyl hy ook aggressief kan verdedig. Daarbenewens is sy kommunikasievaardighede een van sy sterk punte terwyl hy ook die bal kan skop.”

Mathieu Raynal, die Franse skeidsregter wat verlede week die Wallabies gestraf het omdat hulle in die doodsnikke van die wedstryd tyd gemors het, sal Saterdag as een van die assistent-skeidsregters optree.

“Mathieu glo in homself en ek hou van daardie eienskap. Hy het ʼn sterk persoonlikheid en wanneer hy iets sien, dan neem hy ʼn besluit. Beteken dit dat alles elke keer reg is? Nie rêrig nie, maar ons almal is eintlik in daardie bootjie.”

Die wedstryd begin Saterdag om 09:05 en die aksie sal regstreeks op SuperSport uitgesaai word.

All Blacks: Beauden Barrett (heelagter), Will Jordan (regtervleuel), Rieko Ioane (buitesenter), Jordie Barrett (binnesenter), Caleb Clarke (linkervleuel), Richie Mo’unga (losskakel), Aaron Smith (skrumskakel), Ardie Savea (agtsteman), Dalton Papali’i (flank), Akira Ioane (flank), Sam Whitelock (slot en kaptein), Brodie Retallick (slot), Tyrel Lomax (stut), Codie Taylor (haker) en Ethan de Groot (stut). Plaasvervangers: Samisoni Taukei’aho, Ofa Tu’ungafasi, Nepo Laulala, Tuou Vaa’i, Hoskins Sotutu, Finlay Christie, Roger Tuivasa-Scheck en Sevu Reece.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

Niklaas ·

Ek dink Australië gaan harde bene kou. Die All Blacks het laas naweek gewis amper verloor en groot geskrik. Op die speelveld van “The house of pain” gaan hul die Wallabies lelik verniel , glo ek.

JD ·

Ek sien die All Blacks begin met 14 spelers, net een flank.
Braaf

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.