All Blacks verswelg Italië

Die All Blacks was meedoënloos, hulle het Italië gewurg. (Foto: All Blacks/X)

Moet nooit ʼn All Black-rugbyspan afskryf nie, veral nie ʼn gewonde een nie.

Dink maar terug aan die tweede toets in 1970 op Nuweland nadat die All Blacks die eerste toets op Loftus Versfeld teen die Bokke verloor het.

Dink aan hul meesterlike oorwinnings van 57-15 teen die Bokke in 2016 in Durban, toe hulle die Bokke in 2016 met 57-0 in Albany afgeslag het, en die Bokke in 1999 onder Nick Mallett met 28-0 in Dunedin verslaan het.

Ja, daar was vanjaar insinkings en twee nederlae, met 7-35 teen die Bokke op Twickenham in ʼn Wêreldbeker-oefenwedstryd en toe hulle teen die Franse in die openingswedstryd van vanjaar se WB-toernooi met 27-13 geklop is.

Maar Vrydagaand in Lyon het die All Blacks daardie teleurstellings soos telkemale in die verlede opsy geskuif toe hulle Italië met 96-17 in hul kragmeting in Groep A vermorsel het.

Dit was die All Blacks se tweede grootste oorwinning nog oor Italië nadat hulle die Azzurri met 101-3 in die Wêreldbekertoernooi in 1999 vernietig het.

Die All Blacks het Vrydagaand hul bonuspunt-drie binne 22 minute gedruk, hulle het altesame 14 drieë gedruk en die deur oopgeskop om na alle waarskynlikheid teen Ierland in die kwarteindronde van vanjaar se WB-toernooi te speel.

Die All Blacks was meedoënloos, hulle het Italië gewurg, hul dissipline was uitstekend want hulle het net sewe strafskoppe afgestaan. Hulle het al 14 hul lynstane gewen, drie lynstaanballe by die Italianers gegaps, stewig geskrum, die losspel oorheers en agterlangs gekook.

Die ervare spelers soos Aaron Smith, Codie Taylor, Brodie Retallick, Scott Barrett en Ardie Savea het die grondslag gelê.

Ja, dit was net Italië, sal baie mense sê.

Hulle het dan in die All Blacks se hande gespeel deur met elke bal te probeer hardloop. Maar dit was ook dieselfde Italianers wat met sulke taktiek net met 24-28 teen die Franse en 20-34 teen die Iere in vanjaar se Sesnasies verloor het.

Dit was dieselfde Italië wat Australië met 28-27 in 2002 geklop het, Wallis in 2022 met 22-21 verslaan het en Japan met 41-21 geklop het.

Die All Blacks was nooit onder druk nie en met al hul beseerde spelers soos Jordie Barrett, Shannon Frizell, Sam Cane en Tyrel Lomax terug in die tuig, het dit die vonk by die res van die span aangesteek.

Hul plaasvervangersbank is net soos dié van die Bokke nou weer ʼn groot pluspunt.

Die All Blacks (10 punte) is naas Frankryk (14 punte) tweede in Groep A.

Die Franse moet nog teen Italië afrond.

Die All Blacks moet nog teen Uruguay speel en as alles volgens plan verloop, sal hulle vyf punte verdien om teen die wenner van Groep B (Ierland of die Springbokke) te speel.

Speel die All Blacks soos teen Italië, kan hulle in die halfeindronde speel asook die eindstryd haal.

Puntemakers: Nieu-Seeland 96 (41): Drieë: Will Jordan (2), Aaron Smith (3), Mark Telea, Ardie Savea (2), Brodie Retallick, Dalton Papali’i, Dan Coles (2), Damian McKenzie, Anton Lienert-Brown. Doelskoppe: Richie Mo’unga (9), Damian McKenzie (4).

Italië 17 (3): Drieë: Ange Capuozzo, Monty Ioane.

Doelskoppe: Tommaso Allan, Paolo Garbisi. Strafdoel: Tommaso Allan.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.