Aussies breek Blitsbok-harte

Muller du Plessis het een van die Blitsbokke se drieë gedruk, maar hy is later in die wedstryd beseer. Foto: Twitter.

Suid-Afrika het vanmiddag in die bekerkwarteindstryd van die Londen-sewestoernooi soos vetgesmeerde blitse teen Australië weggetrek.

Shakes Soyizwapi, Muller du Plessis en Ronald Brown het munt geslaan uit die Aussies se onvermoë om afskoppe te bemeester en die Suid-Afrikaners het binne ’n japtrap met 17 – 0 voorgeloop.

’n Plek in die halfeindstryd teen Samoa het gewink, terwyl uiteindelike reekslouere ook ’n definitiewe moontlikheid was.

Maar die Aussies het uitstekend terugbaklei. Ben Dowling het net voor rustyd die Blitsbok-verdediging gefnuik, terwyl Henry Paterson daarna sommer twee keer sy pad na die doellyn gevind het.

Skielik was die telling 21 – 17 in Australië se guns.

Met die sekondes wat aftik het Du Plessis ’n desperate teenaanval geloods, gegly en kop eerste teen ’n Aussie-verdediger se arm vasgeloop.

Die talentvolle Suid-Afrikaner het roerloos op die veld bly lê, maar kon later vir die skare waai toe hy van die veld gedra is.

Met 16 sekondes op die horlosie het die skeidsregter – wat baie streng by afbreekpunte was – beslis dat die têkkel slegs ’n strafskop (en geen kaart nie) regverdig het.

Suid-Afrika het daarna moedig probeer om ’n drie te druk, maar nog ’n fout by die afbreekpunt het beteken dat Australië nou in die bekerhalfeindstryd sal speel.

Tog het die Blitsbokke met baie meer selfvertroue as in die vorige drie toernooie gespeel. Die uiteindelike reekswenner sal nou tydens die Los Angeles-toernooi aangewys word; daar is dus nog baie op die spel.

  • Puntemakers:

Australië: Ben Dowling en Henry Paterson (2).

Blitsbokke: Shakes Soyizwapi, Muller du Plessis en Ronald Brown.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Casper ·

Die blitsbokke se taktiek van aanval in die middelveld en hou jou snellers aan die buitekant ,breek binne toe en lang aangeë het die hele toernooi gewerk.Die steekskoppie vorentoe het in hulle vorige wedstryde gewerk maar toe verander hulle van wedstryd plan en speel met krag.Jy kan nie spoed koop nie en die afrigter kan nie vir jou verdedig op die veld nie.Gelukkig maak Powell klaar.Stel Msrius Schoeman aan maar die huidige “afrigter”sal die pos kry dit is hoekom hy hulp afrigter is.Die blits bokke se dae is nes sokker se dae getel.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.