Bankkrag-bohaai sal SA’ners nie van stryk bring

Cheslin Kolbe. (Foto: GB Jordaan.)

Die Springbokke sal nie konsentrasie verloor nie, selfs al word daar weer ’n bohaai opgeskop oor die rits voorspelers op die span se plaasvervangersbank.

Jacques Nienaber-hulle het weer op ’n 7/1-verdeling vir Saterdag se belangrike Wêreldbekerwedstryd teen Ierland besluit.

“Ons respekteer die afrigtersgroep se besluit en al wat ons as spelers kan doen, is om so goed as moontlik vir die wedstryd voor te berei,” het Cheslin Kolbe gesê.

Nodeloos om te sê, ’n paar oudspelers en -afrigters het hul mond oor die taktiek uitgespoel, maar dit het al vantevore vir die Springbokke gewerk.

Vra net vir Nieu-Seeland op Twickenham.

Volgens Kolbe kan kritici maar praat en kopskud, die spelers gaan hulle nie veel daaraan steur nie.

“Al wat ons kan doen, is om op die dinge te konsentreer wat binne ons beheer is. Terselfdertyd moet ons verseker dat ons aandag nie afgetrek word nie.”

Cobus Reinach is die enigste agterspeler op die plaasvervangersbank, maar die Suid-Afrikaners se veelsydigheid beteken dat hulle verskillende agterlynhoede kan dra.

Benewens Reinach se vleuelspeelvermoëns, kan Faf de Klerk losskakel toe skuif terwyl Kolbe ook al op skrumskakel diens gedoen het.

“Daar is risiko [aan die plaasvervangersverdeling] verbonde, maar ons is gelukkig om spelers te hê wat in verskillende posisies kan speel. Ons speel vir mekaar; ongeag die spankeuse.”

Die vlugvoetige vleuel is ook opgewonde om teen die Iere kragte te meet.

“Dit is ʼn reusevoorreg om hier te wees en ek is dankbaar vir die geleentheid om my land te verteenwoordig. Ek wil net uitgaan en die oomblik geniet,” het die Wêreldbeker-wenner afgesluit.

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Niklaas ·

Dis nogal ‘n groot waagstuk en eksperiment teen ‘n span soos Ierland. Hul afrigtingspan het dalks net sulke planne as teenvoeter teen die 7-1 verdeling.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.