Een van die nuwelinge in die Blou Bulle-rugbyunie (BBRU) se Carlton-B-liga is besig om die kaarte in die reeks deurmekaar te krap.
Hartbeespoort, wat pas vanjaar tot die Carlton-B-liga bevorder is nadat hy die C-liga verlede jaar gewen het, is besig om sy stem dik te maak, en sy eerstespan is tans onoorwonne boaan die punteleer in die afdeling.
Sy tweedespan is derde en die derdespan tweede in hul onderskeie afdelings.
Die klub het Saterdag twee van sy drie kragmetings teen Tuine se Grizzlies gewen: die eerstespan met 32-10, en die derdespan met 27-19. Tuine II het met 52-0 gewen.
Ockie van Schalkwyk, Hartbeespoort se woordvoerder, sê die eerstespan het baie sterk geskrum, sy lynstaanwerk was goed, en die lostrio het by die afbreekpunte oorheers.
“Die agterlyn het goeie balbesit gekry, en die losskakel, Henk de Ridder, het Tuine se verdediging deurgaans aan die raai gehou.
“Hy het die Grizzlies behoorlik getoets, talle geleenthede geskep en self die voordeellyn na willekeur oorgesteek. Hy het goeie diens van die skrumskakel, Ferdinand von Wielligh, gekry.
“Die agterlyn in geheel het ʼn vyfster-vertoning gelewer,” sê Van Schalkwyk.
Ewe veel amok
“Die binnesenter, Jacques Diedericks, se krag en vaart het Tuine oorhoops gehad. Hy moes ongelukkig later die veld verlaat, en die regtervleuel, Chris Ebersohn, het binnesenter toe geskuif, en ewe veel amok gemaak.
“Stephan Kekana het aan Diedericks en Ebersohn se buitekant baljaar, en drie drieë gedruk.
“Die vleuels, Ebersohn en Shaun Michael Wright, het puik vertonings gelewer, met vaart en mening verdedig, en die verdediging van Tuine beproef.”
Van Schalkwyk sê die voorry, Neil Koch, Cheeze Nkolobe en Cobus Allers, het Tuine in die skrums opgedreun, en was baie woelig in die los. Koch se vaart en fiksheid in die algemene spel was opvallend.
Ingeklim
“Donovan Nienaber en Wessel Cronjé het op die verdediging uitgeblink, en onder Tuine se baldraers ingeklim.
“Rassie Saaiman het as baljagter gedy, en sy ondersteundende spel was puik. Selfs wanneer die blitsige agterspelers van Hartbeespoort deurgebreek het, was Saaiman byderhand.
“Die agsteman Brandon Gibson het weereens ʼn stewige vertoning gelewer, maar moes die veld verlaat met ʼn baie ernstige enkelbesering, wat waarskynlik die einde van sy seisoen beteken.
Van Schalkwyk sê Bercho Botha het die wedstryd op die nommer 7-flank begin, maar agsteman toe geskuif ná Gibson se besering.
Soos Bok Duane
“Hierdie 21-jarige reus het die kontaksituasies heeltemal oorheers, en sy inklimspel en krag herinner baie sterk aan die Springbok Duane Vermeulen. Dit kan die Blou Bulle tot voordeel strek om hom dop te hou. Hy was welverdiend die speler van die wedstryd.”
Naas Kekana het Diedericks en De Ridder vir Harties gedruk.
Van Schalkwyk sê dit was ʼn belangrike oorwinning vir Hartbeespoort, en die span is besig om goeie momentum vir die res van die seisoen op te bou.
”Die grondslag vir Tuine II se oorwinning is voorlangs gelê,” berig hy. Sy (Tuine se) sterk voorhoede het die skrums, lynstane en afbreekpunte oorheers, en oorgenoeg balbesit vir ʼn goeie agterlyn verseker.
11 veranderings
“Hartbeespoort was weliswaar erg ontwrig nadat hy noodgedwonge ʼn volle 11 veranderings moes aanbring aan die span wat die vorige week met Brits afgereken het.
“Bronwin Karools het deurgaans goed verdedig.”
Van Schalkwyk se die reën het tot baie hanteerfoute gelei, maar Tuine kan baie tevrede wees met sy vertoning.
“Die oorwinning was welverdiend, en dit lyk na die span in die liga om dop te hou.”
17 punte
Twee spelers het al Harties III se punte teen Tuine aangeteken: Husky Vorster het 17 punte met ʼn drie, drie doelskoppe en twee strafdoele behaal; en Michau van der Walt het twee drieë gedruk.
Van Schalkwyk sê Hartbeespoort se voorspelers het die grondslag vir die oorwinning gelê, en Vorster, die losskakel het veral daarvoor gesorg dat Harties gereeld op die telbord saamgesels.
“Die wedstryd is in die reën gespeel, en Hartbeespoort het deurentyd die botoon gevoer.
“Die loskopstut, Martin Lubbe, het weereens ʼn reusewedstryd gespeel, en het veral op die verdediging uitgeblink, soos ook die haker Robby Language.
Vorster het benewens sy goeie skopwerk pale toe, die wedstryd puik met die voet dikteer; en die binnesenter, Van der Walt, het goeie lyne gehardloop. Sy sentermaat JP Viljoen was goud werd op die aanval sowel as die verdediging.
Ander uitslae –
Carlton-B-liga
Eerstespanne
Korrektiewe Dienste 49, Cullinan 19; TUT 79, Silver Valke 5; Brits 12, Baviaanspoort 12.
Tweedespanne
KD 59, Cullinan 19; TUT 63, Silver Valke 7; Brits 14, Baviaanspoort 14.
Derdespanne
KD 19, Cullinan 0; TUT 7, Silver Valke 3; Brits 34, Baviaanspoort 0.
Carlton-C-liga
Eerstespanne
Transnetparke 24, Atteridgeville 0.
Tweedespanne
Transnetparke 15, Atteridgeville 5.
Opgesomde telkaart –
Carlton-B-liga
Eerstespanne
Hartbeespoort 20, TUT 13, Baviaanspoort 13, KD 10, Eersterust 10, Tuine 9, Brits 2, Silver Valke 1, Cullinan 0.
Tweedespanne
KD 15, TUT 15, Hartbeespoortdam 15, Baviaanspoort 12, Tuine 10, Eersterust 9, Brits 3, Silver Valke 1, Cullinan 0.
Derdespanne
Cullinan 14, Hartbeespoortdam 13, Baviaanspoort 9, TUT 8, Tuine 6, Brits 6, KD 5, Silver Valke 1.
Carlton-C-liga
Eerstespanne
Bronkhorstspruit 15, Noord 15, Westelikes 14, Stanza/Militêr 14, Transnetparke 11, Soshanguwe 5, Atteridgeville 4, Mamelodi/Nellmapius 1, Tswaing 1.
Tweedespanne
Westelikes 14, Noord 13, Bronkhorstspruit 13, Soshanguve 12, Transnetparke 9, Stanza/Militêr 9, Atteridgeville 5, Tswaing 4, Mamelodi/Nellmapius 0.
Goeie dag..kd 3 het 19-0 verloor teen cullinan