Bekerhonger Zimbawiërs betwis Goue Bekerreeks

old georgiansDis `n bekerhonger Old Georgians wat Zimbabwe in die eerste internasionale reeks om die Goue Beker sal verteenwoordig.

Die klub se afrigter, Grant Mitchell, het Woensdag in `n onderhoud met Pale Toe! gesê hoewel die klub deesdae een van Zimbabwe se beste is, het die “silwerware” in onlangse jare die klub ontwyk en hy het dít nodig om die kroon op sy pogings te span.

“Old Georgians se sewesspan oorheers die plaaslike klubkampioenskap nou al geruime tyd oortuigend en die 15-mangroep moet `n slag sy deel doen. Ons het gewis die talent en die potensiaal.”

Mitchell, wat as een van die knapste afrigters in Zimbabwe beskou word, sê die klub is die SA en die Zimbabwiese Rugbyunie “besonder dankbaar” vir die geleentheid om in die reeks om die Goue Beker te speel.

“Klubrugby in Zimbabwe beleef `n moeilike tyd en hierdie is die heel grootste aansporing dusver om dinge reg te doen. Dis `n opwindende nuwe hoofstuk.

“Old Georgians se verantwoordelikheid strek verder as die klub. Ons verteenwoordig Zimbabwese rugby.”

Mitchell sê die klub streef “in ooreenstemming met die moderne neiging” `n alles omvattende speelstyl na.

“Aanpassing is die sleutel. Ons kan eenvoudig nie `n eendimensionele span wees of `n koers inslaan bloot omdat `n bepaalde vaardigheid in ons spelerspoel ontbreek nie.

Grant Mitchell - knap afrigter. (Foto: pitchero.com)

Grant Mitchell – knap afrigter. (Foto: pitchero.com)

“Ons hersien jaarliks ons spelerspoel en bespreek met die groep waar verandering en verbetering in die spelerstruktuur aangebring moet word.”

Hy glo die span vind grootliks baat by `n sterk klubkultuur en die wete dat dit steeds aan ‘t ontwikkel is.

“Ons glo die kultuur skep die platvorm vir alles, in die besonder vir die benadering waarop vir die klub voorberei en meegeding word.

“In ooreenstemming met ons kultuur is ons leiergroep sowel puik mense as puik spelers. Hulle stel die peil en lei deur hul voorbeeld.”

Die groep sluit verskeie spelers met internasionale ervaring in en Mitchell sê die klub is geseënd dat hulle week in en week uit die Old Georgians-embleem dra.

Twaalf van vanjaar se spelers is by die nasionale 15-mangroep betrokke, daar  is vyf Zimbabwiese sewesspelers en twee nasionale o.20-spelers.

Hy sê elke enkele speler word op verskillende vlakke as `n bydraende faktor tot die klub se sukses erken en die klub is gelukkig om oor baie talent en sterk leierskap te beskik.

Kingsley Lang - robuuste kaptein. (Foto: Twitter)

Kingsley Lang – robuuste kaptein. (Foto: Twitter)

Tussen die topspelers tel die robuuste kaptein en agsteman, Kingsley Lang; die staatmaker speelkant-flank Jacques Leitao; en drie gereelde nasionale sewesspelers Lenience Tambwera (losskakel), Boyd Rouse (binnesenter), Stephan Hunduza (linkervleuel) en Kuda Chiiwanza (heelagter).

Mitchell sê hulle is hard besig om huiswerk te doen oor die spanne teen wie hulle speel met elke stukkie materiaal wat hulle met `n gesukkel in die hande kan kry.

“Old Georgians fokus egter op wat hy kan vermag. Ons moet ons toespits op dit waar ons in beheer is en wat ons regstreeks kan bestuur.”

Die span moet nog die Zimbabwese liga voltooi en gebruik dit as deel van sy ontwikkelingsproses met die oog op die Goue Beker.

“Die spelers is aangevuur deur die geleentheid om die klub te verteenwoordig en groot opgewondenheid heers by oefeninge en met die spankeuse.

“Ons is baie bewus van die lang duur van die seisoen en die uitwerking daarvan op die spelers se lywe.

“`n Gevorderde krag-en-kondisioneringstelsel is gevolglik in ons struktuur ingebou om te verseker die spelers is gereed en uitgerus vir wat op hulle wag,” sê Mitchell.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.