Beseerde Malan se veggees beïndruk Lienert-Brown

Le Roux Malan. (Foto: Lionel Bonaventure/AFP)

Le Roux Malan het aan die All Blacks se Anton Lienert-Brown bevestig dat sy besering veel erger kon gewees het.

Die Nieu-Seelander het vir die 24-jarige Namibiër in die hospitaal ná sy suksesvolle enkeloperasie gaan kuier.

Malan het Vrydag in die 18de minuut van Namibië se Wêreldbeker-kragmeting teen Nieu-Seeland gegly terwyl hy probeer het om Beauden Barrett in sy spore te stuit. Hy het onmiddellik na sy regterenkel gegryp en mediese personeel is inderhaas ontbied.

Spel is vir amper tien minute gestaak terwyl hy behandeling op die veld ontvang het. Spelers en toeskouers het later soos een man hande geklap toe hy per draagbaar van die speelveld vervoer is.

Die Namibiërs het ’n rukkie later bevestig dat hy sy enkel gebreek en ontwrig het.

“Dit is egter baie beter as wat ons gedink het. Ons het aanvanklik gedink dat my tibia morsaf is, maar ek gaan nou net vir vier tot ses maande op die kantlyn wees. Dit voel amper onwerklik,” het Malan gesê.

Volgens die 24-jarige speler het sy linkervoet gegly terwyl sy regtervoet in die grasoppervlak vasgesteek het.

“Toe ek kontak met Beauden gemaak het, het dit gebreek. Dit is ’n fratsongeluk.”

Die All Blacks het ook ’n spesiale binnesenter-trui – wat deur die hele span onderteken is – aan die Namibiër oorhandig.

“Ek het begrip vir dit waardeur hy moet gaan. Ek het vroeër ook ’n groot skoueroperasie ondergaan. Dit is egter goed om hom so positief te sien en daar is definitief wedersydse respek tussen die twee rugbyspanne,” het Lienert-Brown gesê.

De Groot vir twee wedstryde geskors

’n Tugkomitee het vir Ethan de Groot vir twee wedstryde geskors nadat hy met ’n rooi kaart van die veld gestuur is in die wedstryd teen Namibië.

Wedstrydbeamptes het beslis dat die All Blacks-stut nie sy arms gebruik het in een van sy duikslae nie en die bunker-stelsel het toegesien dat sy aanvanklike geel kaart na rooikaartstatus opgeskuif is.

Die skorsing beteken dat De Groot eers weer in die kwarteindstrydrondes speelkans kan kry.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Kobus ·

Sterkte met die herstelproses. Geluk aan die mooi sportmangees van die All Blacks…..en dan geagte mnr de Groot, ek dink dit is jy wat tydens die HaKa gelag het. Ek wil my verstout om te sê dit is disrespek vir ‘n groot oomblik en ‘n gerespekteerde tradisie. Hoop jou bestuur sal jou reghelp.

piet ·

De Groot het verseker nie vir die Haka gelag nie maar het seker by voorbaat gelag vir die groot telling wat gaan kom teen Namibie.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.