Blitsbokke sorg vir kookwater-eindstryd

So naby en tog so ver. (Foto: Twiter)

Die Blitsbokke het vandag in Sydney in hul derde eindstryd van vanjaar se HSBC-sewesreeks gespeel. En hoewel hulle met 12 – 10 teen Fidji vasgeval het, verdien hulle lof vir die wyse waarop hulle van verlede week se tiende plek in Hamilton opgestaan het.

Die eilandmanne het vyf van die laaste ses eindstryde tussen dié twee lande gewen, terwyl hulle boonop altyd ’n krag op Australiese velde is.

Dit het briljante verdediging van JC Pretorius geverg om ’n Fidjiaanse drie binne sekondes ná die afskop te kniehalter, maar Napolioni Bolaca het kort daarna vir die eerste van sy twee drieë deurgehardloop.

Pretorius was tydens sy skooldae een van HTS Middelburg se opwindendste losvoorspelers en hy het sy driedrukvaardighede ook uitgestal om die Suid-Afrikaners se eerste punte van die eindstryd aan te teken.

Maar toe Bolaca sy tweede drie druk, het dit gelyk asof Fidji se donderweer te sterk vir Suid-Afrika se blitse sal wees.

Angelo en Zain Davids het egter skitterend gekombineer om die verdedigers onverhoeds te betrap en met die telling op 12 – 10 kon enigiets nog gebeur het.

Helaas kon die Blitsbokke nie dié keer die wa deur die drif trek nie. En toe Cecil Afrika – met die sirene wat reeds vir die einde van die wedstryd geloei het – die seepgladde bal aangeslaan het, was dit Fidji wat met die goue medalje in Sydney huis toe gegaan het.

Maar dit was beslis ’n kookwater-eindstryd.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.