Blitsbokke, vlieënde Argentyne in dieselfde groep

Die Blitsbokke is in dieselfde groep as Argentinië in Perth. (Foto: Hansie Linde)

Hier kom ʼn ding.

Die wispelturige Blitsbokke en die vlieënde Argentyne sal sommer reeds in die groepfase van die Perth-sewestoernooi kragte meet.

Die groeploting vir die derde toernooi in die HSBC-sewesreeks is Donderdag gedoen en die Blitsbokke is saam met Argentinië, Kanada en Spanje in Groep A.

Deesdae weet ʼn mens nie mooi wat om van die Blitsbokke te verwag nie. Nadat hulle met die louere in Dubai weggestap het, was hulle skoon die kluts kwyt in Kaapstad; soos wat die nederlae teen Australië (28 – 0) en Nieu-Seeland (31 – 7) getuig.

Argentinië het ’n skittervertoning in Kaapstad gelewer. (Foto: Hansie Linde)

Daarteenoor het die Suid-Amerikaners met ʼn spogvertoning vorendag gekom en vir die Aussies van hul voete in die bekereindstryd gehardloop om die silwerware met ʼn telling van 45 – 12 omhoog te hou.

Hoog op die Blitsbokke se prioriteitslys vir die Perth-toernooi is om beter balbesit te verseker: Spanne het die Suid-Afrikaners onder groot druk by die afbreekpunte geplaas en gereeld punte aangeteken; gereeld teen verloop van die spel.

Tog is afrigter Sandile Ngcobo optimisties oor die oorblywende toernooie in die reeks.

“Ons het die afgelope twee toernooie gewys dat ons met enige span kan afreken en ons het baie hard in die aanloop tot die seisoen gewerk. Ja, die tweede dag van die Kaapstad-toernooi was nie ʼn goeie dag vir ons nie, maar ons sal beslis die wedstryde ontleed en die nodige aanpassings maak,” het hy gesê.

Die Perth-toernooi word van 26 tot 28 Januarie beslis en die aksie word regstreeks op SuperSport uitgesaai.

Die Blitsbokke sal beter in die komende toernooie wil speel. (Foto: Hansie Linde)

  • Groepe:

Groep A: Argentinië, Suid-Afrika, Kanada en Spanje

Groep B: Australië, Ierland, Groot-Brittanje en die VSA

Groep C: Fidji, Nieu-Seeland, Frankryk en Samoa

  • Amptelike punteleer:
  1. Argentinië: 38 punte
  2. Suid-Afrika: 30 punte
  3. Fidji: 30 punte
  4. Nieu-Seeland: 28 punte
  5. Ierland: 26 punte
  6. Australië: 26 punte
  7. Samoa: 11 punte
  8. Frankryk: 10 punte
  9. Kanada: 9 punte
  10. VSA: 8 punte
  11. Groot-Brittanje: 7 punte
  12. Spanje: 5 punte

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.