Blitsbokke wil goud in Tokio jag

Foto: GB Jordaan

Die Olimpiese Spele gee die Blitsbokke weer ’n doel om voor te oefen. En nadat hulle met hul vorige probeerslag die bronsmedalje in Rio de Janeiro ingeoes het, het hulle een doelwit voor die oë: Om goud in Tokio te wen.

“Die Olimpiese Spele is die grootste sportgebeurtenis in die wêreld. Ons het die vorige keer ’n medalje losgespeel, maar beslis nie in die kleur wat ons wou gehad het nie,” het Neil Powell, die nasionale sewesafrigter, gesê.

Die HSBC-wêreldreeks het weens die wêreldwye Covid-19-pandemie in Maart verlede jaar tot ’n skielike stilstand gekom en sedert die aanvanklike streng inperkingsperiode skaaf die nasionale sewessterre aan hul vaardighede in Stellenbosch.

“Ons het verlede September met kondisionering- en vaardigheidsontwikkeling begin en die spelers het baie hard gewerk. Dit was ’n uitdagende tydperk, maar dieselfde geld waarskynlik vir Nieu-Seeland, Fidji en almal wat sewesrugby speel.”

Die span word deur die talentvolle Siviwe Soyizwapi aangevoer; ’n speler wat ook eers vyftienmanrugby vir die Southern Kings gespeel het voordat sy spoed en talent deur die Blitsbok-bestuur raakgesien is.

“Ek wou egter nog altyd sewesrugby gespeel het en ná ’n paar toernooie saam met die Akademiespan, het ek besluit om die skuif [na dié kode] te maak,” het Soyizwapi gesê.

Van die redes vir Suid-Afrika se sukses op die internasionale sewesverhoog is die spoed waarteen die span speel, terwyl hulle ook nie skroom om groter teenstanders aan te vat nie.

Branco du Preez staan byvoorbeeld net 1,72 m in sy sokkies, terwyl hy net meer as 70 kg weeg. Volgens Powell is die Blitsbokke se spelers baie kleiner wanneer hulle met ander spanne vergelyk word.

Maar hulle staan vir niemand terug nie.

“Ons werk besonder hard aan die fisieke kant van die spel, maar ek hou daarvan om te dink dat veelsydigheid ons sterk punt is – veral as jy na kreatiewe spelers soos Justin Geduld en Selvyn Davids kyk.”

  • Die Olimpiese Spele se seweskompetisie is van 26 – 31 Julie.

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.