Blitse het Iere in visier

Die Blitsbokke op die oefenveld in Hongkong. (Foto: X/Blitsbokke)

Tydelike Blitsbok-afrigter Philip Snyman glo dat sy spelers goed genoeg is om ʼn beter vertoning in Hongkong te lewer.

Suid-Afrika se sewesrugbyspan het sy laaste toernooi in Los Angeles in die 11de plek afgesluit nadat hy onder meer teen Ierland, Argentinië en Samoa verloor het.

Die Blitse begin juis die komende veldtog met ʼn wedstryd teen die omgesukkelde Iere.

“Ek is vol vertroue dat ons goed kan doen. Ons het hard in Suid-Afrika geoefen, terwyl ons voorbereiding hier in Hongkong ook glad verloop het. ʼn Mens kan nie eintlik die talent in die groep betwis nie; elke speler moet net ʼn duidelike prentjie hê van wat daar van hom verwag word,” het Snyman gesê.

En teen dié tyd verwag plaaslike sportliefhebbers dat die Blitsbokke weer moet wen.

Want waar die Suid-Afrikaners in die vorige seisoen die silwerware in die visier gehad het, is die eerste doelwit deesdae om net uit die groepfase te kom.

“Om vir die bekerkwarteindstryd te kwalifiseer is iets wat ononderhandelbaar vir ons is. Die span is oorgehaal om die Blitsboktrui en -embleem met trots te dra.”

Dit gaan nie maklik wees nie – hulle het met 17 – 0 teen Ierland in Los Angeles verloor en die eerste hekkie kan dalk net weer die hoogste in Hongkong wees.

“Ons het vir die Ierland-wedstryd voorberei asof dit ons enigste een van die naweek sal wees. Ons moet dit doodeenvoudig wen om die nodige momentum op te bou vir die res van die toernooi.”

Die Blitsbokke het in Los Angeles gesukkel om die Iere se spelers in toom te hou en Zac Ward se kragspel is met twee drieë beloon.

Snyman het egter weer spelers soos Christie Grobbelaar, Ronald Brown, Dewald Human en Quewin Nortjé tot sy beskikking en hopelik kan hulle tot die span se suksesherlewing bydra.

“Dit is ʼn saak van geloof en vertroue. Ons het fisiek so goed as moontlik voorberei en ek is ook tevrede met die manne se ingesteldheid.”

Blitsbokke se Hongkong-groep: Christie Grobbelaar, Ryan Oosthuizen, Impi Visser, Zain Davids, Ronald Brown, Selvyn Davids (kaptein), Shaun Williams, Dewald Human, Shilton van Wyk, Darren Adonis, Justin Geduld, Quewin Nortjé en Katlego Letebele.

Bepalings:

Vrydag:

05:39: Suid-Afrika teen Ierland

08:23: Suid-Afrika teen Spanje

Saterdag:

04:16: Suid-Afrika teen Samoa

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.