Blitse wil vergoed vir vorige seisoen se geploeter

Impi Visser in aksie op die sewesrugbyveld. (Foto: Rodger Bosch/AFP)

Die Blitsbokke is die verdedigende seweskampioen in Dubai nadat hulle Ierland verlede jaar met 21 – 5 in die bekereindstryd geklop het.

Maar dinge het daarna lelik begin skeefloop en die Suid-Afrikaners kon net 12 van hul laaste 30 kragmetings in die HSBC-sewesreeks wen.

Die Blitsbokke speel Saterdag in hul eerste wedstryd van die nuwe seisoen in die einste woestynstad en die spelers is oorgehaal om vir die geploeter van vroeër te vergoed.

“Vir ʼn speler is dit baie spesiaal om die Blitsbok-trui oor die kop te trek, maar verlede seisoen was ons spel glad nie op standaard nie. Dit het seergemaak en ons is vasberade om beter te speel,” het Impi Visser gesê.

Die ervare Blitsbok is een van 13 nasionale spelers wat vir die Dubai-toernooi gekies is.

“Die groep het goeie herinneringe van die toernooi en dit sal my sewende keer in Dubai wees. Baie van die spelers het hul buiging hier gemaak en ons het nou juis weer oefentruie aan Quewin Nortjé en Katlego Letebele oorhandig.”

Dié twee spelers kan hul internasionale buiging dié naweek maak.

Volgens Visser het die Blitsbokke baie hard in aanloop tot die toernooi gewerk.

“Ons het onsself tot die uiterste op die oefenveld getoets. Dit is egter nou verby en nou moet ons op die speelveld sterk staan. Die spelers is beslis oorgehaal om dit te doen.”

Blitsbok-groep vir Dubai: Christie Grobbelaar, Ryan Oosthuizen, Impi Visser, Zain Davids, Katlego Letebele, Masande Mtshali, Ronald Brown, Selvyn Davids, Dewald Human, Justin Geduld, Shilton van Wyk, Rosko Specman en Quewin Nortjé.

Bepalings:

Saterdag:

8:50: Suid-Afrika teen Samoa

12:58: Suid-Afrika teen Kanada

18:44: Suid-Afrika teen Nieu-Seeland

Uitslae van die Blitsbokke se vorige sewestoernooi in Dubai:

5 – 14 teen Groot-Brittanje

27 – 12 teen Kenia

19 – 12 teen Australië

24 – 19 teen Samoa (beker-kwarteindstryd)

26 – 19 teen Nieu-Seeland (beker-halfeindstryd)

21 – 5 teen Ierland (beker-eindstryd).

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.