Bokke gerat vir fisieke Engelse aanslag

Die Springbok-span wat vanaand teen Engeland op die Stade de France speel. (Foto: Twitter/Springbokke)

Volgens Pieter-Steph du Toit verwag die Springbokke ʼn fisieke aanslag van Engeland in vanaand se Wêreldbeker-halfeindstryd op die Stade de France.

“Ons hoor dat hulle ons veral in die skrums en losgemale sal wil aanvat. Daar is natuurlik ʼn paar ander faktore waaraan ons ook sal moet aandag gee, maar ons sal gereed wees vir enigiets,” het die sterk voorspeler gesê.

Hoewel Suid-Afrika deur ʼn veel warmer vuur gelouter is op sy pad na die halfeindstryd, weet die spelers dat hulle nie vir Engeland kan onderskat nie.

“In ʼn uitspeelwedstryd kan jy nie op jou louere rus teen enige span nie. Ons weet dat daar ʼn taai toets op ons wag, maar net soos Engeland het ons ook baie goed voorberei. Nou moet ons net ons geleenthede met al twee hande aangryp,” het Mzwandile Stick gesê.

Volgens die Springbok-hulpafrigter vind die Rose maniere om wedstryde te wen.

“Hulle het ons verlede week met hul fisieke spel teen Fidji beïndruk en hulle het hul sterkste span vir die halfeindstryd gekies.”

Die Bokke het in 2019 ʼn slag teen die Engelsmanne geslaan toe hulle die Wêreldbeker-eindstryd met 32 – 12 in Jokohama gewen het.

Tog het Stick gewaarsku dat elke wedstryd op ʼn skoon bladsy begin.

“Engeland is nou ’n heeltemal ander span. Hulle mag dalk ʼn stadige aanloop tot die toernooi onder Steve Borthwick se toesig geniet het, maar hulle het ʼn spul veranderinge aan hul spel en strukture gemaak. Om ʼn Wêreldbeker te wen moet jy deur moeilike tye gaan en verlede week se wedstryd teen Frankryk het ons uitstekend vir die halfeindstryd voorberei.”

Die wedstryd begin vanaand om 21:00 en die aksie word regstreeks op SuperSport uitgesaai.

Springbokke: Damian Willemse (heelagter), Kurt-Lee Arendse (regtervleuel), Jesse Kriel (buitesenter), Damian de Allende (binnesenter), Cheslin Kolbe (linkervleuel), Manie Libbok (losskakel), Cobus Reinach (skrumskakel), Duane Vermeulen (agtsteman), Pieter-Steph du Toit (flank), Siya Kolisi (kaptein en flank), Franco Mostert (slot), Eben Etzebeth (slot), Frans Malherbe (stut), Bongi Mbonambi (haker) en Steven Kitshoff (stut). Plaasvervangers: Deon Fourie, Ox Nche, Vincent Koch, RG Snyman, Kwagga Smith, Faf de Klerk, Handré Pollard en Willie le Roux.

Engeland: Freddie Steward (heelagter), Jonny May (regtervleuel), Joe Marchant (buitesenter), Manu Tuilagi (binnesenter), Elliot Daly (linkervleuel), Owen Farrell (losskakel), Alex Mitchell (skrumskakel), Ben Earl (agtsteman), Tom Curry (flank), Courtney Lawes (flank), George Martin (slot), Maro Itoje (slot), Dan Cole (stut), Jamie George (haker) en Joe Marler (stut). Plaasvervangers: Theo Dan, Ellis Genge, Kyle Sinckler, Ollie Chessum, Billy Vunipola, Danny Care, George Ford en Ollie Lawrence.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

SjN ·

Die Bokke se ratte het nie seepglad gewerk die eerste helfte nie, baie gelukking om te wen, sterkte vir die finaal, vertrou jul bring die trofee weer huistoe.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.