‘Bokke haal beste uit ons’ – Smith

Aaron Smith lei die All Blacks se haka in Frankryk. (Foto: Twitter/FranceRugby)

Nieu-Seeland se Aaron Smith sal sy 125ste en laaste toets vir die All Blacks in die Wêreldbeker-eindstryd teen die Springbokke speel.

En volgens die 34-jarige skrumskakel is daar nie eintlik ʼn beter manier om jou loopbaan af te sluit as om teen jou rugbyaartsvyand vir die Webb Ellis-trofee te speel nie.

“Suid-Afrika beskik oor baie groot rugbyspelers en ek wil onverskrokke rugby teen hulle speel,” het Smith gesê.

Hy weet egter dat die Bokke se voorspelers hul stempel op die wedstryd sal wil afdruk.

“Hulle gaan probeer om dinge so stadig as moontlik vir ons by die afbreekpunte te maak, terwyl ek weer sal wil verseker dat ons flinke rugby speel. Ek wil hul groot ouens op die veld rondjaag en hulle moeg maak sodat hul skrums en rolmaalbewegings nie so goed is nie.”

Smith, wat in 2012 sy internasionale buiging teen Ierland gemaak, het ʼn uithalervertoning teen Argentinië in die halfeindstryd gelewer.

Hy is deeglik bewus daarvan dat die Springbokke allesbehalwe kanonvoer in die eindstryd sal wees.

“Ek sal dapper op verdediging moet wees – jy moet laag ingaan om te têkkel en dan moet jy net vasklou. Om teen die Bokke te speel is eintlik tweeledig van aard: Jy wil taai en fisieke rugby speel, maar terselfdertyd wil jy hulle ook onder druk met jou spoed en vaardighede op die aanval plaas.

“Die Springbokke haal altyd die beste uit ons.”

Die Wêreldbeker-eindstryd begin Saterdag om 21:00 en die aksie word regstreeks op SuperSport uitgesaai.

All Blacks: Beauden Barrett (heelagter), Will Jordan (regtervleuel), Rieko Ioane (buitesenter), Jordie Barrett (binnesenter), Mark Tele’a (linkervleuel), Richie Mo’unga (losskakel), Aaron Smith (skrumskakel), Ardie Savea (agtsteman), Sam Cane (kaptein en flank), Shannon Frizell (flank), Scott Barrett (slot), Brodie Retallick (slot), Tyrel Lomax (stut), Codie Taylor (haker) en Ethan de Groot (stut). Plaasvervangers: Samisoni Taukei’aho, Tamaiti Williams, Nepo Laulala, Sam Whitelock, Dalton Papali’i, Finlay Christie, Damian McKenzie en Anton Lienert-Brown.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

5 Kommentare

vuurvliegie ·

Dankie vir die puik artikel Maroela. Ek weet die All Blacks gaan wen maar ek weet nie hoe ver nie. As ek kan raai met so 14 punte want die Bokke is maar ‘n bietjie lomp en onfiks.

vuurvliegie ·

Miljoene Suid Afrikaners staan agter die All Blacks. Trots op julle.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.