Bokke moet op jongste oorwinnings voortbou

Die Springbokke se Jacques Nienaber. Foto: Juan Mabromata/AFP.

Die Springbokke het die Rugbykampioenskap in die tweede plek afgesluit nadat hulle vier wedstryde – twee teen Argentinië en een elk teen die All Blacks en die Wallabies – gewen het.

“Ons het ʼn paar baie goeie oomblikke in die toernooi gehad, maar dan het ons ook met ʼn paar swakkes vorendag gekom. Ons sal beslis met meer bestendigheid moet speel,” het Siya Kolisi gesê.

Die Springbokke het gister se kragmeting teen die Argentyne as ʼn eindstryd benader en hulle moes die wedstryd met ʼn bonuspunt en met minstens 39 punte gewen het as hulle die All Blacks van nóg ʼn Rugbykampioenskap-titel wou ontsê.

Hulle het alles in die stryd gewerp, maar hul goeie oorwinning van 38 – 21 was uiteindelik nie genoeg nie.

“Ons weet dat ons oor die vermoë beskik om enige span te klop, maar hierdie was beslis ʼn tree in die regte rigting omdat dit ons derde oorwinning op ʼn streep was. Ons sal graag op hierdie momentum in ons jaareindtoer wil voortbou,” het die Springbok-kaptein gesê.

Volgens Jacques Nienaber was die Suid-Afrikaners goed op dreef om die verlangde punte teen Argentinië aan teken totdat die besoekers dinge in die 35ste minuut van die wedstryd deurmekaar gekrap het.

“Hulle was toe suksesvol met ’n stelskoppoging en hul drie net voor rustyd het die dinamiek van die wedstryd verander. Tog kan ek nie fout met die spelers se poging vind nie. Ja, ons het ons bes probeer en ongelukkig nie die mas opgekom nie, maar jy kan nooit ’n sege in die Bok-trui as vanselfsprekend ervaar nie. Dit is baie spesiaal,” het die Springbok-afrigter gesê.

Nienaber is ook tevrede met die spelerdiepte wat hy tot sy beskikking het. Die Springbok-bestuur het nou antwoorde op sommige van die vrae het wat hulle in aanloop tot die toernooi gehad het.

“Daar was altyd ’n groot kwessie oor die losskakel-posisie en of Damian Willemse daar kan speel of nie. Dan verdien Frans Steyn ook ’n klop op die skouer; hy moes op baie kort kennisgewing inspring en hy sal net beter word.

“Ons is egter nog nie waar ons wil wees nie en soos wat Siya tereg gesê het, ons het meer bestendigheid nodig.”

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

7 Kommentare

piet ·

Die tipe rugby wat die Bokke speel is regtig frustrerend en onaanskoulik. Baie beperk. Om die Bokke te klop moet jy net sorg dat jy hulle voorlangs kan vasvat dan is die saak meer as halfgewonne. Ongelukkig vir die Bokke het spanne soos NZ, Ierland, Engeland, Frankryk die vermoe om hul voorlangs aan te durf sodat die Bokke nie die oorhand daar kry nie.

N ·

Stem saam jou piet. Ons voorspelers is van die beste in die wereld. Ons agterlyn vergelyk met n universiteit se 2de span.

SjN ·

Stem saam Piet, volle agterlyn beweging gebeur selde en as dit miskien plaasvind druk hul n drie, te veel doellose skoppe en sekere spelers nie op vorm in die posissie.

Republikein in die Wes Kaap ·

Jakkie my maat, daai ding op jou vingerpunt is ‘n rugbybal. Gaan google maar.

Manie ·

Ons afrigting span onder leiding van Nienaber se voorkoms is volgens my nie na wense nie. Nienaber is meestal ongeskeer en sit in ‘n T-hemp en sweetpak in die losie. Hulle kan gerus by die Kiwi’s gaan leer wat netheid is. Hulle afrigting span is pynlik netjies geklee, daar is geen verskoning vir Nienaber om so onnet te wees nie.

JohanR ·

Evan Roos het weer Saterdag ‘n wonder krag drie gedruk, maar lyk my Jaques Nienaber kyk net by die Bulle, nou en dan by die Haaie, en nooit by die Leeus. Ek lees in Rapport dat Faf de Klerk 42 vir die Bokke op gedraf het, en al 5 keer af gestuur is. Wonder ook of Cheslin Kolbe nog weet dat hy die nommer 1 vleeul is, of het Jacques nou vir hom gese hy is nommer 3?

Kokkie ·

Ek hoop net nie Rassie gaan weer so ‘n spektakel van homself en SA-rugby maak op die einde van die jaar toer nie.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.