Bokke se Wiese in Engeland vereer

Jasper Wiese. (Foto: GB Jordaan.)

Suid-Afrika se Jasper Wiese se vuurwarm vertonings in die kleure van die Leicester Tigers in die Engelse Premierskap is deur sy medespelers raakgesien.

Die voormalige Cheetahs-losvoorspeler is gister deur die Rugby Players’ Association (RPA) vereer toe hy as die spelers se speler van die jaar aangewys is.

Dié eer het verlede jaar vir André Esterhuizen – wat vir Harlequins uitdraf – te beurt geval.

Wiese se statistiek sorg vir indrukwekkende leesstof: In sy 14 wedstryde vir die Tigers het hy ses drieë gedruk, 130 duikslae uitgevoer en 218 keer met die bal gehardloop.

“Dit is ’n groot eer om so ’n spesiale toekenning te ontvang,” het die Springbok-agtsteman gesê.

“Ek wil graag die spelers in die toernooi bedank wat vir my gestem het, terwyl ek ook baie dankbaar vir my Leicester-spanmaats se ondersteuning is.”

Mateo Carreras (Newcastle Falcons), Ben Earl (Saracens), Alex Mitchell (Northampton Saints) en Tom Pearson (London Irish) was die ander benoemdes in die kategorie.

Die 27-jarige Wiese het in 2021 sy Springbok-buiging teen Georgië op Loftus Versfeld gemaak en hy het Suid-Afrika sedertdien in 20 toetse verteenwoordig.

Hy beïndruk veral met sy klipharde inklimspel en hy is sekerlik die gunsteling om die Springbok-nommeragttrui by vanjaar se Wêreldbeker-rugbytoernooi in Frankryk te dra.

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

B-Man ·

Yster. Goeie opvolger vir Duane, ‘n ander yster, wie se tyd nou eintlik maar verby is.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.