Bokke, Skotte albei lus vir wen

Jamie Ritchie en Skotland is oorgehaal om hul beste rugby teen die Springbokke te speel. (Foto: Andy Buchanan/AFP)

Suid-Afrika én Skotland se nasionale rugbyspanne is oorgehaal om hul eerste kragmeting van die Wêreldbeker-rugbytoernooi komende Sondag te wen.

Skotland kon Suid-Afrika nog nooit in ʼn Wêreldbeker-wedstryd klop nie. Die Springbokke was in 1999 met 46 – 29 baas op Murrayfield, terwyl hulle ook in 2015 die septer met hul oorwinning van 34 -16 in Newcastle geswaai het.

Tog lyk dit nie of Gregor Townsend en kie hulle juis veel aan die tikkie statistieke steur nie. Die Skotte speel Sondag teen die Springbokke in die twee spanne se openingswedstryd van die Wêreldbeker-toernooi in Marseille.

“Ons gaan probeer om Suid-Afrika nie vir een oomblik met rus te laat nie. Vir die afgelope paar weke het ons net daarop gekonsentreer om op ons heel beste vir die wedstryde in aanloop tot die toernooi te wees,” het die Skotland-afrigter bevestig.

“Toegegee, ʼn span is seker nooit op sy heel beste in die eerste wedstryd van die toernooi nie, maar ons is oorgehaal om suksesvol te wees. Wanneer ons op alle suiers vuur, kan ons mededingende rugby teen die wêreld se voorste spanne speel.”

Townsend het na die Skotte se moedige terugvegpogings teen die All Blacks in Edinburgh en Frankryk in Parys verwys om sy punt te onderstreep.

“Daar is beslis nog ruimte vir verbetering en ons moet leer om goeie terugvegpogings met ʼn wen af te rond, maar ons glo dat dinge op 10 September vir ons in plek sal val.”

Skotland-wedstryd ‘soos ʼn eindstryd’

Die Springbokke het Sondag by hul Wêreldbeker-basis in Toulon ná ʼn veerbootrit van meer as tien uur aangekom. Die Suid-Afrikaners het die afgelope week ’n produktiewe voorbereidingskamp in Korsika bygewoon.

Volgens Jacques Nienaber wil die Bokke dinge nie té ver vooruitloop nie. Dit is ʼn veel beter benadering om op een wedstryd op ʼn slag by ʼn Wêreldbeker-toernooi te konsenteer.

“Ons het hard agter die skerms in Korsika vir ons openingswedstryd teen Skotland voorberei. Hulle is vyfde op die wêreldranglys en ons weet waartoe hulle in staat is,” het die Springbok-afrigter gesê.

Cheslin Kolbe. (Foto: GB Jordaan.)

Die hitte en hoë humiditeitsvlakke van die Mediterreense eiland het die Bokke ook ʼn gereedheidshupstoot vir die openingswedstryd in Marseille gegee.

Benewens die Skotland-tweestryd sal die Suid-Afrikaners ook teen Ierland, Tonga en Roemenië in moeilike Groep B-kragmetings te staan kom; om in elke wedstryd goed te speel is dus van kardinale belang vir die Bokke se uitspeeldrome.

“Die wedstryd teen Skotland kan met ʼn eindstryd vergelyk word omdat ons in so ʼn moeilike groep is,” het Cheslin Kolbe aan AFP gesê.

Die vlugvoetige agterspeler stem met sy afrigter saam: Harde werk op die oefenveld is die sleutel tot sukses.

“Ons is die verdedigende kampioenspan, maar dit is vier jaar gelede. As ons ʼn soortgelyke vertoning wil opdis, sal ons baie hard moet werk. Ons wil Suid-Afrika trots maak en vir spesiale herinneringe sorg.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.