Bokke staan nie stil onder Rassie se toesig

Rassie Erasmus (Foto: Springboks/Facebook)

Rassie Erasmus, hoofafrigter van die Springbokke, is bekend vir sy innoverende idees op die rugbyveld.

Maar nadat Suid-Afrika vir die tweede keer op ʼn streep die Webb Ellis-trofee omhoog gehou het, is hy waarskynlik meer bewus as enigiemand anders van die feit dat die Bokke nie sal kan bekostig om stil te staan nie.

“Soos wat ek in die aanloop tot verlede jaar se Wêreldbeker-toernooi gesê het; daar is gʼn manier dat ons suksesvol sal wees as ons knaend dinge op dieselfde manier aanpak nie. Ons sal weer ons spel moet aanpas – spanne het beslis na ons benadering gekyk en aan maniere gedink om ons te stuit,” het Erasmus gesê.

Volgens die voormalige Springbok-flank is daar hard agter die skerms gewerk om tot die span se vooruitgang by te dra.

Daarom het hy intussen vir spesialiste soos Tony Brown, Jerry Flannery, Jaco Peyper en Paddy Sullivan nadergetrek.

Brown, wat in sy speeldae die no. 10-trui vir die All Blacks gedra het, meen dit is ʼn voorreg om die Bokke op die aanvalsfront by te staan.

“Dit was opwindend om die spelers en afrigters by verlede week se belyningskamp te ontmoet. Suid-Afrika spog met baie talentvolle spelers en my doelwit is om die beste uit hulle op die speelveld te haal,” het die 49-jarige Kiwi gesê.

Dan sal Flannery – die voormalige Ierland-haker – voortaan ʼn wakende oog oor die Bokke se verdediging hou.

Hy het heelhartig met Brown saamgestem: Die belyningskamp was ʼn reusesukses.

“Die afrigterspan het goed saamgewerk en die spelers het hulle met ons planne vereenselwig. Hopelik kan ek ʼn goeie bydrae tot die groep se sukses maak,” het hy gesê.

(Foto: @Springboks/X/Twitter)

Op sy beurt was Sullivan deel van die Springbokke se suksesverhaal in Frankryk, terwyl die Ier ook vir Montpellier in die Top 14-reeks bygestaan het.

Hy is voltyds as die Suid-Afrikaners se prestasieontleder aangestel.

Suid-Afrika se internasionale rugbyseisoen begin amptelik op 22 Junie teen Wallis op Twickenham.

Die Springbok-bestuurspan vir 2024 lyk só: Rassie Erasmus (hoofafrigter), Charles Wessels (spanbestuurder), Mzwandile Stick (assistent-afrigter), Daan Human (assistent-afrigter), Deon Davids (assistent-afrigter), Tony Brown (assistent-afrigter), Jerry Flannery (assistent-afrigter), Andy Edwards (atletiese prestastasiehoof), Sebastian Prim (sportwetenskaplike), Paddy Sullivan (prestasieontleder, Lindsay Weyer (tegniese ontleder), Jaco Peyper (reëls- en dissipline-adviseur), dr. Jerome Lehlogonolo Mampane (spandokter), dr. Aneurin Robyn (fisioterapeut), René Naylor (fisioterapeut), JJ Fredericks (logistieke bestuurder), Zintsika Tasha (bedryfsbestuurder) en Zeena Isaacs van Tonder (mediabestuurder).

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Mart ·

Nee maar lekker…as almal net daaroor omgegee het..verbeel ek my hulle het begin skiet aan chasing the sun nr3 da in bloemfontein so week terug?

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.