Bokke trek Roos en kie vir oefenkamp nader

Evan Roos. Foto: GB Jordaan .

Die Springbok-bestuur het besluit om Manie Libbok, Sascha Mngomezulu en Evan Roos deel van die nasionale oefenkamp op Stellenbosch te maak. Daarteenoor sal Johan Goosen en Elrigh Louw nie meer die voorbereidingsessies bywoon nie.

Goosen is nog op die herstelpad nadat hy harsingskudding opgedoen het, terwyl Louw sy enkel in Vrydagaand se wedstryd tussen die Bulls en Benetton beseer het.

Met ʼn groot groep spelers wat binnekort na Europa sal vertrek – benewens die Springbok-span sal ʼn SA A-groep ook volgende week bekend gemaak word – het Rassie Erasmus gesê dat dit sin maak dat die Stormers-spelers saam met die nasionale groep oefen.

Hulle sal dan weer toegelaat word om saam met hul franchise-span vir die komende Verenigde Rugbykampioenskap-wedstryd teen die Lions te slyp.

“Evan het reeds sy Springbok-buiging gemaak, terwyl Sacha en Manie vir die eerste keer aan die nasionale opset blootgestel sal word. Hoewel dit ʼn kort kamp is, sal dit vir hulle ervaringsgewys van onskatbare waarde wees. Ons is opgewonde om te sien hoe hulle by die groep inskakel en wat hulle alles op die veld kan doen,” het SA Rugby se direkteur van rugby gesê.

Johan Goosen in aksie vir die Springbokke. Foto: AFP.

Goosen was vroeër die enigste deurwinterde losskakel wat die kamp sou bywoon, maar sy ontydige besering het dinge vir die Bok-bestuur deurmekaar gekrap.

Volgens Erasmus sal dit vir eers beter wees as die 30-jarige losskakel by die Bulls bly en saam met sy span vir Sondag se wedstryd teen die Sharks voorberei.

“Gelukkig het hy vroeër vanjaar ons belyningskamp bygewoon en hy is bekend met ons opset en strukture.”

Dan word daar berig dat Louw vir tot agt weke op die krukkelys kan wees.

“Dit is ʼn groot jammerte dat Elrigh beseer is, maar ons sal beslis ʼn oog op die omvang van sy besering hou; selfs al lyk dit nie nou of hy beskikbaar vir die toer sal wees nie.”

Spelers wat na die oefenkamp genooi is:

Voorspelers: Thomas du Toit, Steven Kitshoff, Frans Malherbe, Ox Nché, Malcolm Marx, Bongi Mbonambi, Lood de Jager, Eben Etzebeth, Salmaan Moerat, Pieter-Steph du Toit, Siya Kolisi, Evan Roos, Kwagga Smith, Deon Fourie en Franco Mostert.

Agterspelers: Faf de Klerk, Jaden Hendrikse, Manie Libbok, Sacha Mngomezulu, Jesse Kriel, Damian de Allende, Kurt-Lee Arendse, Willie le Roux, Makazole Mapimpi, Canan Moodie, S’bu Nkosi en Damian Willemse.

Springbokke-bepalings:

5 November teen Ierland

12 November teen Frankryk

19 November teen Italië

26 November teen Engeland

SA A-span se bepalings:

10 November teen Munster

17 November teen Bristol Bears.

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

Kobus ·

Wat is fout met Morne Steyn? Hy is dalk nie meer so vinnig nie maar verseker ‘n wedstryd wenner.

JohanR ·

Kobus – dink nie ons rugby is soos die Amerikaanse voetbal waar jy net die ou opstuur as daar net pale toe moet skop, en na die skop gaan sit die ou weer.

SjN ·

Ek lees dat Sbu Nkosi deur die Bulle se Jake teruggestuur is weens protokol reels wat verbreek is, goed so, maak mos wat hul wil en dink mos hul is onaantasbaar.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.